16 dae gelede
Donker drama bestem vir kassie
NUUT: Andahr Cotton vertolk die rol van Adam Prinsloo, wat ná 18 maande uit ’n koma wakker word.  ~ Foto Verskaf

DAAR is ’n splinternuwe reeks op pad wat ons in spanning voor die kassie gaan laat sit.

Die DStv-kanaal kykNET het hierdie week sy nuwe reeks Spoorloos: Heksejag aangekondig.

Die reeks handel oor Adam, wat uit ’n koma van ’n hele 18 maande wakker word ná ’n ongeluk op die aand van sy matriekafskeid.

Sy metgesel is in die ongeluk dood, maar Adam kan niks daarvan onthou nie. Om die waarheid te sê, sy geheue eindig die dag voor sy 10de verjaardag.

Adam se ontwaking wek baie belangstelling, maar nie almal is ewe bly dat dit gebeur het nie.

Daar is ’n vrou wat in die hospitaal rondsluip en die dokter lyk baie senuagtig.

Toe Adam later ’n traumatiese gebeurtenis onthou, besluit hy om self te probeer uitvind wat die aand van die motorongeluk gebeur het.

Het dit dalk enigiets te doen met die skoolmeisies wat van heksery verdink is?

Die vorige reeks van Spoorloos het kykers vasgenael gehou. Hierdie tweede reeks (met nuwe karakters en sy eie storielyn) beloof om dieselfde te doen.

Die hoofskrywer en regisseur is weer die bekroonde Ilse van Hemert met Christo Davids as haar assistent.

Die ander lede van die skryfspan is Jan Lampen, Marisa Drummond en Beyers de Vos.

Raaisel

“Hierdie reeks het dieselfde DNS as die vorige reeks,” sê Ilse.

“Dit speel in ’n klein dorpie af; daar is ’n verdwyning; daar is ’n raaisel wat opgelos moet word en die verlede het ’n groot invloed op die hede.

“Daar is dus twee tyds­vlakke en drade wat aan die einde weer moet saamkom.”

Ilse verduidelik die titel van die reeks: “Heksejag is ’n gejaag na iets of ’n soek na ’n sondaar wat nie bestaan nie,” sê sy en lag.

“Daardie is dalk een van die eerste lei­drade van die reeks,” voeg sy by.

In die rolverdeling is Andahr Cotton as Adam Prinsloo, Lee Visagie as Christa en Gérard Rudolf as Frans Prinsloo, Adam se pa.

’n Paar talentvolle spelers wat ’n welkome terugkeer in TV-drama maak, sluit Philip Moolman, Elma Postma, Vu­yelwa Mpela, Hanli Rolfes en Bertha le Roux-Wahl in.

Ander akteurs in die rolverdeling is Carla-Marie Myburgh as Wanda, Nastassja Preto­rius as Yvette en Huey Louw as Hannes.

  • Die eerste van die 10 episodes begin 20:00 op 14 Julie op kykNET, DStv se kanaal 144.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters