6 dae gelede
Dié Rose het skerp, giftige dorings
en dít ...? Rose Fortuin (Carla Diamond) gaan die Matthews-huishouding omkrap.FOTO’S VERSKAF  ~ 

SY IS soos ’n storm wat jy sien aankom, maar waaraan jy net mooi niks kan doen nie.

Dis hoe Carla Diamond haar karakter, Rose Fortuin in die telenovella Arendsvlei, beskryf.

Kykers ontmoet dié nuwe gesig dié week, en sy gaan omtrent ’n opskudding in die Matthews-huishouding veroorsaak.

Volgens Carla is Rose ’n interessante karakter.

Sy vertel: “As deel van my research het ek mense wat dieselfde eienskappe as Rose het, waargeneem.

“Rose is ingewikkeld, en al kom sy nie ernstig voor nie, verduur sy pyn, en dit het gevolge vir ander.”

Benewens haar rol in Arendsvlei het Carla vyf ander jobs, waarvan een moederskap is.

Voor Arendsvlei het die aktrise, wat ook ’n sangeres is, ’n paar albums uitgereik en selfs ’n bietjie welslae oorsee behaal

Ná die aanbreek van moederskap het Carla rustiger geraak. “My dogter is die belangrikste vir my, en dis hoekom ek gereeld nee sê vir gigs buite die Wes-Kaap.

Onthou

“Aan die ander kant kan ek ook nie sit en wag vir royalty cheques nie.

“Ek moet iets doen om te survive, en het toe onthou: Oh, maar ek is mos ’n aktrise ook. Ek moes myself remind oor wat ek is.”

Carla het ook in Swartwater 2 gespeel, ander klein rolle en in advertensies.

Sy sê baie mense besef nie altyd wat akteurs en aktrises doen of behoort te doen nie.

Sy verduidelik: “Ons rol is om ’n boodskap oor te dra, mense te laat lag, huil, dink ...

“Ek het ook gebid om nie ’n maid of dwelmverslaafde of prostituut te speel nie.

“Dís die soort rolle wat ons mense altyd gegee is, en dis baie frustrating.

“Ek kan ook ’n lawyer en dokter wees. Daar moet opsies wees vir ons mense.

“Ons is nie net die mense sonder tande wat niks weet nie.”

  • Skakel 20:00 Maandae tot Woensdae in op die DStv-kanaal kykNET & kie (kanaal 145) vir Arendsvlei.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters