3 maande gelede
Carly droom van sukses
VOL VERTROUE: Carly van Aarde (22) wil verandering in haar gemeenskap bring.FOTO’S VERSKAF  ~ 

JY HOEF jou nie te beperk tot die gemeenskap waarin jy woon nie.

Dít is die motiverende woorde van die 22-jarige Carly van Aarde van Delft.

Van Aarde is ’n deelnemer aan Empress South Africa se aanlyn skoonheidskompetisie.

“Daar is soveel meer buite Delft,” meen sy.

Sy vertel sy kon van kleins af aan niks anders as modelleerwerk dink nie.

“Ek’s geïnspireer deur my ma, wat ook ’n model was,” vertel Van Aarde.

Empress South Africa is ’n skoonheidskompetisie wat op die bemagtiging van vroue fokus.

Hulle soek na skoonheid én intelligensie.

Die finale vind op 16 Desember in die Suncoast Casino in Durban plaas.

Gedurende die jaar kry die finaliste punte deur verskeie opdragte uit te voer en ’n verskil te maak in hulle gemeenskap.

Van Aarde het ook liefdadigheidswerk in haar gemeenskap gedoen.

Die sprankelende jong vrou sê haar inspirasie vir die kompetisie is die huidige titelhouer van Empress South Africa, Tshepo Makupu.

“Sy is vrymoedig, sterk en kragtig. Sy inspireer my om toegewyd te wees en hard in dié kompetisie te werk,” sê Van Aarde.

Dwelms

Van Aarde het vertroue en droom groot om ’n suksesvolle sakevrou, model en professionele grimeerkunstenaar te word.

“Ek sal baie graag ’n danssentrum vir jong mense in Delft wil open om hulle weg hou van bendegeweld en dwelms,” sê sy.

Mense kan help om die kroon na Kaapstad te bring deur vir haar te stem. SMS Carly na 35334.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters