3 maande gelede
Bestes op 2019 se KKNK vereer vir hul bydrae
trots: Craig Morris is as die beste akteur aangewys. Foto’s: Oakspics  ~ 

DIE debuutproduksie Koningin Lear het Maandagaand ag van die Kanna-pryse losgeslaan.

Dié pryse word toegeken aan uitmuntende bydraes wat op die Klein Karoo Nasionale Kuns­tefees (KKNK) op die planke was. Die KKNK is vanjaar die 25ste keer aangebied.

Koningin Lear word beskryf as ’n moderne weergawe van William Shakespeare se tragedie King Lear. Die Vlaamse skrywer Tom Lanoye het dit aangepas en Antjie Krog het dit in Afrikaans vertaal.

Titelrol

In die toneelstuk word onder meer skerp kommentaar ge­lewer op die magsug in die hedendaagse sakewêreld. Krog het die Kanna vir ’n uitnemende literêre bydrae vir haar vertaling gekry.

Dié produksie is ook aangewys as beste teateraanbieding én beste debuutwerk.

Marthinus Basson het die Kanna vir beste regisseur en beste teater-ontwerp ontvang.

Die kunstenaars wat Kannas vir puik spel in Koningin Lear gewen het, is Antoinette Kellermann in die titelrol (beste aktrise), Anna-Mart van der Merwe (beste byspeelster) en Edwin van der Walt (beste byspeler).

Craig Morris is aangewys as beste akteur vir sy rol in Johnny Boskak Voel ’n Bietjie

Die Kanna vir die beste opkomende kunstenaar is toegeken aan Devonecia Swartz vir haar spel in Jakkals en Wolf Onbeperk. Rudi van der Merwe het die Herrie-prys gekry vir die outobiografiese stuk Lovers, Dogs and Rainbows.

Die Kanna-prys vir die beste musiekproduksie is gewen deur My Miriam Makeba Story with Sima Mashazi.

Imagining Tomorrow is bekroon vir die beste bydrae tot visuele kuns. Dr. Paul Bayliss en Thabo Seshoka was die kurators van dié gesamentlike uitstalling deur die Ugandees Donald Wasswa en die Keniaan Onyis Martin.

Wasswa en Martin was in 2016 merietewenners van die Absa L’Atelier-kompetisie.

Jaco Conradie het die Kanna gekry vir tegniese uitnemendheid vir die technical support wat hy jaarliks aan produksies op die fees verleen.

Daleen Witbooi het ’n spesiale Kanna gewen vir haar bydrae tot die KKNK.

Die Oudtshoorniet Madeleine Miles is erken vir haar projek, reWOLusie.

Daardeur is Oudtshoorn spesiaal vir die fees in kleurryke brei- en hekelwerk getooi.

By die Kanna-uitdeling het die KKNK ook ’n nuwe poësieprojek bekend gestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters