Verlede jaar
Aktrise praat oor rol in ‘Arendsvlei’
oppie kassie: Ann Juries-May vertolk die rol van Claudia in Arendsvlei.foto’s verskaf  ~ 

ONS ken haar as die inmenge­rige meisie in kykNET & KIe se splinternuwe telenovela, Arendsvlei.

Haar rol daarin – Claudia, wat ’n gr. 11-leerder is – is die pragtige Ann Juries-May se grootste TV-rol tot dusver in haar loopbaan.

Ann het haar graad in Theatre and Performance in 2012 behaal.

Sy is baie dankbaar vir haar rol in dié eerste plaaslike tele­novela wat soveel grense verskuif.

Die jong aktrise van Elsiesrivier vertel sy het nog altyd daarvan gedroom om te act, en nou leef sy haar droom uit.

Ann se karakter in Arendsvlei is baie soos haar ouma daarin.

Claudia probeer heeltyd om dinge te red en in die proses veroorsaak dit net meer drama.

Ann sê Claudia is vir haar interessant.

“Hoewel Claudia nie altyd haar way kry nie, is haar bedoelinge meestal goed, maar sy beland dan in die amusantste situasies,” wei Ann uit.

Sy meen jong mense kan so baie leer uit die lewe van haar TV-karakter.

“Ek dink Claudia se lewe is ’n baie goeie voorbeeld van wat tieners deesdae verduur,” sê Ann.

“Sy is baie taai en niks kry haar onder nie. Sy sal nooit hande gevou staan en toekyk dat die mense vir wie sy lief is, sukkel nie.

Komedie

“Sy gaan altyd uit haar pad om haar geliefdes te help.”

Die jong aktrise vertel hoewel sy tans baie toegewyd is aan Claudia, sal sy dit geniet om in ’n internasionale reeks, verkieslik komedie­, te speel.

Ann sê: “Ek het eers onlangs my liefde vir comedy ontdek, maar ek sal my TV skills wil verfyn en aanhou om die stories van ons mense te vertel en die bruin vrou te verteenwoordig.”

Ann wil nie te veel verklap oor Arendsvlei nie.

Sy sê net dinge gaan sommer nog baie warm raak vir haar karakter en dié se familie.

“Claudia en haar familie sal ’n paar gespanne situasies moet face,” vertel sy.

“Die verhouding tussen haar ouers gaan ’n groot knou vat.

“Haar ma en pa gaan ook deur finansiële moeilikheid en dit gaan maak dat Claudia opstaan vir haar familie.

“Kykers kan daarna uitsien dat Claudia sal opstaan vir haarself en baklei vir waarin sy glo.”

  • Arendsvleiis 20:00 daagliks op kykNET & Kie (DStv-kanaal 145).

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters