5 dae gelede
Warriors dalk sonder 2 sterre teen Cobras
vorder: David White is byna weer reg om vir die Warriors te speel. Foto: theo jeptha  ~ 

DIT is onwaarskynlik dat die Warriors se krieketspan die kolwers Colin Ingram en ­David White vir die volgende Sunfoil-wedstryd sal inspan.

Die Warriors speel van Maandag af op Nuweland in Kaapstad teen die Cape ­Cobras wanneer die vierde ronde se wedstryde plaasvind.

Ingram het las van ’n dyspierbesering en werk ook spaarsamig oor sy chroniese kniebesering.

White herstel van ’n gekraakte vinger. Hy is byna gereed om weer te speel, maar die vinger is steeds pynlik.

Die twee ervare manne kan egter baie vir die Oos-Kapenaars beteken wanneer hulle wel slaggereed is.

White het oorgehaal gelyk vir ’n puik seisoen toe hy in die eerste wedstryd teen die Lions 94 lopies aangeteken het.

Hy kon egter daarna nie weer speel nie en Gihahn Cloete moes toe in die orde opskuif om die beurt saam met Eddie Moore te begin.

Dit het die Warriors ontwrig, want die kolforde moes toe hersien word om die span te balanseer.

Die afrigter, Malibongwe Maketa, sal ook ’n ogie hou op die vertonings van die Oostelike Provinsie en die Grens se spelers wat van vandag af in die provinsiale meerdaagse reeks in aksie is.

In Port Elizabeth speel die OP teen die Vrystaat en die Grens reis na Centurion om Noordelikes aan te durf.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters