2 maande gelede
Stormers waarsku die Chiefs
Seabelo Senatla. Foto: Gallo Images  ~ 

DIE Stormers gaan die Chiefs dié keer beslis nie toelaat om reg te kry wat hulle laas jaar in die kwarteindstryd reggekry het nie.

So het Siya Kolisi, die kaptein van die Stormers, Saterdag­aand belowe.

Dit was ná sy span se Superrugby-sege van 41-33 oor die Bulls op Loftus Vers­feld in Pretoria.

Die Chiefs het die Stormers laas jaar in hul kwarteindstryd op Nuweland met 60-21 uit die Superrugby-kompe­tisie geboender.

Uitdaging

Kolisi glo die sege oor die Bulls is ’n hupstoot vir sy span se selfvertroue voor die kwarteindstryd Saterdag teen die Chiefs op Nuweland.

Die Springbok-flank glo egter die Chiefs gaan hulle ’n heeltemal ander uitdaging bied as dié wat die Bulls hulle gebied het.

Kolisi het gesê: “Ons het nie vergeet wat laas jaar gebeur het nie, en sal nie toelaat dat dit weer gebeur nie.

“Ons is nou ’n heeltemal ander span. Alles wat in die vorige games gebeur het, beteken absoluut niks nie.

“As ons Saterdag nie mededingend is nie, is dit die einde van die pad vir ons,” het hy gemaan.

Die Kaapse franchise het die Chiefs reeds in Maart op indrukwekkende wyse met 34-26 op Nuweland geklop.

Fleck glo as sy span sekere aspekte van sy spel opknap, behoort dit ’n baie mede­dingende wedstryd te wees.

“Ons het die vermoë om spanne onder groot druk op die aanval te plaas en druk tans uitstekende drieë,” het Fleck gesê.

“Die benadering vanjaar is om meer aanvallende spel te lewer. Dit grootste uitdaging is om ewe goed aan te val én te verdedig.”

Fleck maan egter dat die Chiefs opponente flenters kan speel van omgekeerde balbesit.

“Hulle het dit laas jaar met ons in die kwarteindstryd gedoen,” het hy onthou.

“Ons moet baie seker maak dat ons meer gestruktureerd speel en hul kanse op die aanval beperk.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters