5 maande gelede
Kings mik na 4 uit 4
 ~ 

DIE Southern Kings sal sterk moet staan in die skrums as hulle die Brumbies wil klop.

Die Kings pak môre Australië se voorste span in die Nelson Mandelabaai-sta­dion.

Die Kings-breier, Deon Davids, se span mik daarna om verder geskiedenis te maak deur hul vierde agtereenvolgende oorwinning in vanjaar se Superrugby-reeks te behaal.

Die Brumbies-haker Josh Mann-Rea wil egter seker maak die Kings se wenlopie word nou beëindig.

Die Brumbies se vaste fasette is van hul beste wapens en dis presies waar hulle die Kings wil teiken.

“Ons weet die Kings gaan alles insit in die skrums en lynstane. Ons voorspelers moet net seker maak ons doen ons deel sodra die bal afgeskop word,” sê hy.

Ongelukkig het beserings Davids gedwing om sy wenspan te verander nadat hulle die Sharks met 35-32 geklop het.

Die Kings se vaste voorspelers bly dieselfde as teen die Sharks, maar onder die losvoorspelers verander dinge.

Stefan Willemse vervang die beseerde Chris Cloete en Giant Mtyanda neem Wilhelm van der Sluys, wat met ’n maagbesering uit is, se plek.

Davids sê dit sal moeilik wees om Cloete te vervang.

“Cloete is spesiaal en jy vervang hom nie net so nie, maar hopelik bied Willemse ons iets anders op die dag,” sê hy.

Chrysander Botha kry ook weer kans op heelagter in die plek van die beseerde Masixole Banda.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters