2 maande gelede
Federer sweet vir sege; Nadal wen lag-lag
Roger Federer Foto:GALLO IMAGES  ~ 

ROGER Federer se spel was slordig in sy wedstryd in die derde ronde van die Shanghai-meesterstoernooi in die Qi­zhong Forest Sports City ­Arena.

Die Switser het ’n begeesterde Diego Schwartzman van Argentinië met 7-6 (7/4), 6-4 geklop.

Federer sal vandag teen Alexandr Dolgopolov van Oekraïne te staan kom.

Schwartzman, wat 24 plekke onder Federer op die wêreldranglys is, was glad nie geïntimideer deur sy ervare teenstander nie.

Schwartzman se hardnekkige spel het die wêreld se nommer 2-speler gedwing om baie ongedwonge foute te begaan.

Dít is bewys toe Federer ’n verspot maklike backhand volley in die net geslaan het, wat tot ’n valbylpot in die eerste stel gelei het.

Federer se Chinese fans, wat rooi T-hemde gedra en geverfde gesigte gehad het, was verstom oor hul held se slordige spel.

  • Intussen het Rafael Nadal, Federer se aartsvyand, ook sy plek in die volgende ronde van die toernooi verseker nadat hy die Amerikaner Jared Donaldson met 6-2, 6-1 geklop het.

Nadal het minder as ’n uur gevat om te wen.

Sou Nadal sy eerste Shanghai-titel verower en Federer nie die halfeindronde haal nie, sal die Spanjaard dié jaar in die nr. 1-posisie op die rang­lys afsluit. – AP

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters