6 maande gelede
Dis toets vir Treeby
Shaun Treeby  ~ 

SHAUN Treeby, senter van die Stormers, sal vanaand met die taak opgesaal wees om sy gevaarlike eweknie van die Blues, Sonny Bill Wil­liams, op Nuweland in toom te hou.

Die 28-jarige boorling van New Plymouth, Nieu-Seeland, is ’n ervare Superrugby-speler met 50 wedstryde vir die Highlanders agter die blad.

Hy het tot dusver net twee wedstryde vir die Kaapse franchise gespeel, maar genoeg gewys om die ­terugkerende Springbok-senter Damian de Allende op die plaasvervangerbank te hou.

Treeby en die 22-jarige EW Viljoen sal die gedugte senter-kombinasie van Williams en George Moala in toom moet hou.

Die tweestryd in die middelveld behoort een van die groot hoogtepunte van die wedstryd te wees.

Die vertoning van Dillyn Leyds, die speler aan Treeby en Viljoen se binnekant, gaan egter die meeste aandag lok.

Leyds handhaaf tans die beste peil van sy loopbaan. Hy het egter tot dusver meestal as vleuel en ’n paar keer as heelagter vir die Stormers uitgeblink.

Vandag sal die 24-jarige speler egter sy staal in die nr. 10-trui moet wys.

Hy is ’n vaardige speler wat die spel baie goed lees.

Die afgelope maand het die Kaapse franchise ’n nagmerrie beleef.

Robbie Fleck (afrigter) se span het nou vier agtereenvolgende nederlae gely – teen die Lions, Crusaders, Highlanders en Hurricanes.

Die Kapenaars het ’n allemintige 28 drieë en 184 punte afgestaan.

Dit sal dus veral interessant wees om te sien of Leyds die vonk kan verskaf om die Stormers se veldtog weer op koers te kry.

Fleck sê hy en sy span het waardevolle lesse op hul toer in Nieu-Seeland geleer. Hy voeg by: “Die Blues is gelaai met grootnaam-spelers wat die X-faktor het.

“Op die verde­diging sal ons baie skerp moet wees.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters