4 maande gelede
Steak vol-au-vents
heerlik: Hierdie happies is bros en pikant met ’n bietjie blatjang by. foto verskaf  ~ 

LEWER sowat 20 vol-au-vents.

Bestanddele:

1 kg skilferdeeg

en geklitste eier vir glaseersel

Vulsel:

500 g beesfilet, in blokkies gesny

60 mF botter

1 medium ui, fyn gekap

1 tamatie, fyn gekap

10 mF knoffelpasta

45 mF teriyaki-sous

5 mF peri-peri-poeier

5 mF fyngemaalde komyn

sout na smaak

gekapte grasuie

Bolaag:

100 mF maaskaas met room en grasuie

Metode:

1. Voorverhit die oond tot 200 °C.

Bespuit ’n bakplaat met kleefwerende sproei.

Vulsel:

1. Laat smelt die botter in ’n groot kastrol, voeg die ui by en smoor vyf minute lank tot goudbruin. Voeg die tamatie en knoffelpasta by en kook tot sag.

2. Voeg die steak by en smoor 5 tot 7 minute lank. Kook oor lae hitte tot sag.

3. Voeg die souse, speserye en sout by. Laat prut totdat die vog verdamp het. Meng die grasuie liggies met die vulsel.

Vol-au-vents:

1. Rol die deeg 3 mm dik. Gebruik ’n deegafdrukker 10 cm in deursnee om die deegsirkels uit te druk.

2. Gebruik ’n kleiner deegafdrukker en druk die binneste gedeelte van die helfte van die deegsirkels uit.

3. Maak seker dat daar vir elke sirkel ’n boonste en ook ’n onderste gedeelte is.

4. Bestryk die rande van die volle deegsirkels met water. Plaas dié met uitgedrukte binneste gedeeltes bo-op. Druk liggies vas.

5. Bestryk met geklitste eier en plaas op die bakplaat. Bak 15 tot 20 minute lank, tot goudbruin.

6. Verwyder die vol-au-vents uit die oond, druk hulle in die regte vorm en laat hulle dan op ’n draadrak afkoel. Hol die middel effens uit en skep die vulsel daarin.

7. Sit voor saam met verskillende soorte blatjang van jou keuse.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters