8 maande gelede
Sjokolade-tert met karamelsous
 ~ 

HIERDIE sjokoladebruintjiemoussetert sal die suikertande baie gelukkig maak!

Bestanddele:

Bruintjies:

  • 80 g botter
  • 150 g sjokolade, gekap
  • 165 g styf gepakte bruinsuiker
  • 3 eiers, effens geklits
  • 5 mF karamel-geursel
  • 110 g koekmeel
  • 50 g amandels, gevlok

Mousse:

  • 300 mF vars room
  • 400 g sjokolade, gekap
  • 15 mF koffie
  • 45 mF warm water
  • 4 eiers, geskei
  • 15 mF karamelgeursel
  • 15 mF strooisuiker

Karamelsous:

  • 200 mF vars room
  • 60 g botter
  • 200 g styf gepakte bruinsuiker
  • 50 mF amandels, fyngekap.

Metode

Bruintjie:

Voorverhit die oond tot

200 °C. Bespuit ’n losboompan, 20 cm in deursnee, met kleefwerende sproei, voer dit met bakpapier uit en bespuit dit weer.

Plaas die botter, sjokolade en suiker in ’n kastrol. Roer oor medium hitte tot glad.

Roer die eiers, geursel, meel en neute in. Giet mengsel in die pan, bedek goed met aluminiumfoelie en bak 20-25 minute tot gaar. Laat afkoel.

Mousse:

Klits die room tot dik en romerig. Plaas die sjokolade in ’n bak oor ’n kastrol kokende water.

Meng die koffie met die water en roer by die sjokolade in tot glad.

Voeg die eiergele en geursel by. Meng goed. Laat effens afkoel.

Klits die eierwitte tot sagte punte vorm. Voeg die strooisuiker bietjie vir bietjie by totdat die mengsel verdik.

Vou die room in. Vou nou die eierwitte in. Giet die bolaag oor die bruintjies in die pan en sit dit vir ’n hele paar uur of oornag in die vrieskas.

Karamelsous:

Maak die sous 15 minute voordat dit voorgesit word.

Plaas ál die bestanddele in ’n klein kastrol en roer oor medium hitte. Verhit totdat die suiker oplos.

Verminder hitte tot laag en laat prut 5-7 minute. Pasop dat die sous nie brand nie.

Om voor te sit:

Plaas die losboompan op enige groot blik ingemaakte kos. Maak rande los, maar moenie die papier skeur nie. Maak die klamp van die losboompan los.

Lig die pan versigtig van die blikkieskos af, maak dit los van die basis en laat gly op ’n groot bord. Trek die bakpapier van die kante af. Sny die bruintjies in vingers, plaas dit op ’n groot bord en giet die karamelsous daaroor.

Resep uit die reeks kookboekies wat in 2009 deur Son en ­Fusion-Uitgewers ge­publiseer is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters