3 maande gelede
Klassieke melktert
 ~ 

"Teen daardie tyd het ek al genoeg aansien as 'n tuiskok gehad om 'n kookboek in Afrikaans te skryf. My skoonma was bitter ontsteld. "Cass!" het sy geraas. "Gee jy nou sowaar al ons familieresepte net só weg vir wildvreemde Olanners?"

(Tot haar dood het sy na Afrikaners verwys as Hollanders - Olanners, het sy gesê.)"

Bestanddele:

Skilferkorsdeeg:

  • 250 g koekmeel
  • 2 ml sout
  • 250 g margarien
  • 125 ml yskoue water
  • 10 ml asyn

Vulsel:

  • 30 ml koekmeel
  • 60 ml suiker
  • 500 ml melk
  • 2 eiers, geskei
  • 5 ml gerasperde lemoenskil
  • 'n knypie sout

Metode:

1. Skilferkorsdeeg: Sif die meel en sout saam. Vryf 'n vyfde van die margarien by die meel in. Gebruik 'n mes en meng die water en asyn by die meel in sodat dit 'n stywe deeg vorm. Knie die deeg vir ongeveer 3 minute tot dit elasties voel.

2. Verdeel die oorblywende margarien in 3 porsies (harde botter moet gerasper word). Rol die deeg baie dun uit en plaas klein stukkies van die een margarienporsie op die deeg. Strooi 'n bietjie meel oor. Vou die deeg, rol dit uit en verseël. Laat die deeg 10 minute op 'n koel plek rus.

3. Voorverhit die oond tot 230 oC ('n baie warm oond).

4. Herhaal die proses met die deeg en die oorblywende margarienporsies. Rol die deeg dun uit en plaas in 'n tertpan. Rangskik lae van die deeg om die rand van die pan sodat dit 'n rif vorm en gebruik gekiltste eiergeel om dit te laat 'plak'. Hou eenkant.

5. Vulsel: Meng die meel en die suiker. Voeg 'n bietjie van die melk by die meel en meng tot dit 'n pasta vorm. Giet die res van die melk in 'n kastrol en laat stadig tot kookpunt verhit. Voeg die meel-en-melk-pasta by en laat vir 3 minute liggies kook. Laat die melk effens afkoel. Klits die eiergele en voeg dit by die melk. Klits die eierwitte tot stywepuntstadium en vou by die mengsel in. Roer die gerasperde lemoenskil deur en giet die vulsel in die tertpan wat met die skilferkorsdeeg gevoer is.

6. Bak die melktert in die voorverhitte oond vir 10 minute, verlaag die temperatuur na 190 oC en bak vir 'n verdere 10 minute.

7. Strooi kaneelsuiker oor sodra die melktert uit die oond kom.

*Resep uit: Cass Abrahams - 'n Lewe met kos; soos vertel aan Marike Bekker deur LAPA UITGEWERS.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters