5 maande gelede
Gapermosselbredie
 ~ 

Gapermosselbredie is eintlik 'n dik sop (Engels: 'chowder') wat van 'n verskeidenheid seekosbestanddele gemaak word, maar gewoonlik aartappels insluit.

Bestanddele:

  • 1,5 kg gapermossels
  • 50 ml olyfolie
  • 2 middelgroot uie, in dun skyfies gesny
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 3 middelgroot tamaties, skil afgetrek en in blokkies gekap
  • 15 ml tamatiepuree
  • 1 rooi, brandrissie, ontpit en in blokkies gekap
  • 1 lourierblaar
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 750 ml droë witwyn
  • 5 ml bruinsuiker (opsioneel)
  • 1 takkie pietersielie
  • 5 ml Tabascosous (of meer as jy van pikante kos hou)
  • 2 middelgroot aartappels, afgeskil en gekook
  • sap van 1 suurlemoen, vars uitgedruk
  • knoffelkrotons

Metode:

1. Maak seker dat die gapermossels skoon is deur hulle in soutwater te sit en te skrop om enige vuilheid te verwyder.

2. Verhit die olyfolie in 'n warm pan en voeg die uie by.

3. Sodra die uie deurskynend geraak het, voeg die knoffel by en braai liggies.

4. Voeg dan die gekapte tamatie, tamatiepuree, brandrissie en lourierblaar by en geur goed met sout en peper. Roer oor matige hitte totdat die tamatie begin opbreek.

5. Voeg die wyn en suiker by om die suurheid van die tamaties teen te werk. Voeg nog geurmiddels by indien nodig.

6. Laat sowat 7-10 minute lank prut voordat jy die gapermossels, pietersielie en Tabascosous byvoeg. Roer die bredie van tyd tot tyd totdat die gapermossels oopgegaan het.

7. Voeg die blokkies gekookte aartappel by en maak deurwarm. Geur met 'n bietjie vars uitgedrukte suurlemoensap.

*Resep uit: Die Suid-Afrikaanse vis- en seekos kookboek deur LAPA UITGEWERS.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters