10 maande gelede
Vir Hakkelberry Finn kom daar geen verligting
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n lekker kortverhaal deur SOLLY KOOPMAN wat hy die titel “Hakkelberry Finn” gee.

’N Paartjie wat gister in Strandfontein op ’n uitstappie was, het in die sandduine op die grusame vonds van ’n erg ontbinde lyk afgekom.

Die polisie het in ’n verklaring gesê dit is dalk die lyk van ’n sekere mej. Jones.

Jones, ’n vrou in haar vroeë 20’s, is reeds meer as ’n maand vermis en het verdwyn nadat sy saam met vriende by ’n shebeen gekuier het.

Sy is vermoedelik verkrag en daarna aan die brand gesteek.

Sy is onherkenbaar vermink en is slegs aan haar rekord by die tandarts uitgeken.

Die polisie vermoed dis die werk van ’n reeksmoordenaar, want dit is reeds die vyfde lyk wat oor ’n tydperk van ’n jaar gevind is.

Almal was jong vroue wat op dieselfde wyse vermoor is.

Die polisie soek leidrade en enig­iemand wat die vermoorde op haar noodlotsdag gesien het, moet met die polisie in verbinding tree.

Kinders is gereeld eerlik. Soms té eerlik . . . Eintlik wreed!

As kinders jou eers beet het en met byname treiter, bly dié name lewenslank by jou.

Dit volg jou soos ’n skaduwee en elke keer as hulle jou dié naam toeroep, later selfs saamsing, pynig dit jou soos ’n dolk in jou hart.

My naam is eintlik Barry, maar die spotters het my “Hakkelberry Finn” genoem omdat ek altyd vreeslik gestotter het.

Die meeste kinders op skool het my meedoënloos gespot en elke dag van my lewe hel gemaak.

Ek het my onttrek en glad nie in die klas aan enige aktiwiteite deelgeneem nie.

Sien, ek was bang ek moes praat en dat ek myself weer die teiken van ’n gespot en gelag sou maak.

Ek het normaal gepraat tot in my vyfde jaar. My ouers en ek het in my uncle – my ma se broer, Ras James – se backyard gewoon.

Hy was ’n goeie man, ’n Rastaman, wat nie gedrink het nie en net ’n slowboat gerook het.

My ouers het baie gedrink en gedurig gestry en baklei.

My pa was ? meireboef en het gemaai onder die buurt se jong meire, wat hy natuurlik naweke op die smokkeljaarts ge-meet het.

Een so ’n meid kon dit nie vat dat my pa haar ge-drop het vir ? ander loslappie nie.

Sy’t een aand in ’n dronk rage ons hok aan die brand gesteek.

My uncle kon my darem uit die brandende hokkie red, maar my tiepende ouers was nie so gelukkig nie. Hul lyke was erg verkool.

Ek moes sowat ’n jaar deurbring in die Rooi Kruis-kinderhospitaal, waar ek operasie ná operasie ondergaan het om my gebrande gesig en arms respektabel te laat lyk.

Nodeloos om te sê, het ek laat skool toe gegaan. Die brandwonde, die gehakkel weens die trauma van die brand, die verlies van my ouers en my gebrande arms en gesig het my soos ? seer vinger laat uitstaan. My selfvertroue was op nul . . .

Ek het my aan die samelewing onttrek en nie soos normale kinders van my eie ouderdom aan sport deelgeneem of in meisies belanggestel nie.

Inteendeel, ek het hulle altyd met agterdog bejeën, want ek was altyd ’n gekoggel te wagte.

In ’n mate het ek alle kinders en veral vroumense begin haat.

My opinie rondom vroue is al vroeg gevorm.

Ek het die skool vroeg verlaat, want ek kon nie meer die gespot verduur nie en het verhuis na my antie wat op ? plaas naby Paarl gewoon het.

Sy het my onvoorwaardelik aanvaar. Daar het ek vir ? paar jaar gewerk. Niemand het my aangestaar en vrae gestel nie.

Hierdie nederige, sout-van-die-aarde-mense het my laat tuis voel en ek het my verdiep in my plaaswerkies.

Die plaaseienaar het my waarde raakgesien en my na die kwekery verplaas. Dit is waar ek my liefde vir plante ontwikkel het.

Mnr. Malan het my ook gehelp om my voertuiglisensie te kry.

Ek was vir die eerste keer in my lewe gelukkig, maar my verlede het steeds by my gespook . . .

Die nagmerries wou nie wyk nie en ek het saans papnat gesweet wakker geskrik. Ek kon steeds die tergery van die monstertjies hoor: “Hakkelberry Finn, Ha-Ha-Hakkelberry Finn!”

Ek kon my geboortedorp nog nie vergeet nie. Ek moes teruggaan na die Kaapse Vlakte – daar waar die oorsprong van my nagmerries lê. Ek moes my demone probeer oorwin.

Tydens my jare op die plaas het my voorkoms verander.

Ek het nou lang dreadlocks soos my uncle gedra. Die letsels aan my gesig is nou deur my lang dreads verdoesel. My “skoolvriende” sou my nie nou, tien jaar later, herken nie. Ek verkies dit so.

Naweek ná naweek was ek in die shebeens.

Ek het daar gewag op my prooi – jong meisies wat hulle soos slette gedra. Jong meisies wat verleidelik en uitlokkend op die dansvloer hul halfkaal lyfies rondgooi, meegevoer deur die polsende musiek.

My bloed kook daar waar ek in die shebeen se diepste hoekie met die donkerte saamsmelt . . .

Dit was maklik. Sy het met ’n glimlag in my kar geklim. Sy was alleen daar, het sy my oortuig.

“My vriende is lankal huis toe. Hulle is boring. The night is still young,” het sy in ? sexy stem gekoer en koketterig gelag.

Haar kort denim-rompie was opgetrek en haar mooi bene was sigbaar. Haar stywe toppie het niks aan die verbeelding oorgelaat nie.

Haar jong borste het soos ryp spanspekke uitgehang.

“Ons gaan ’n bietjie in Strandfontein chill. Die cooler bag in die boot is gepak met bier en ciders en ’n stukkie wors wat ons op die kole kan gooi,” sê ek.

“A man who knows how to treat a lady,” het sy met ’n smile geantwoord en haar been doelbewus sletterig teen myne geskuur.

In Strandfontein het ons op die donkerste, mees verlate deel van die strand afgepak. My kar is diep in die bossies geparkeer. Niemand kon ons sien of hoor nie . . .

  • )

Toe ek hom daar in die shebeen sien, weggesteek in die donkerte, het hy so onskadelik gelyk. Toe hy my ’n bier aanbied, was sy stem so rustig, so bedaard.

Hy’t my nooit in die gesig gekyk nie, so asof hy skaam was.

Toe ek in sy kar klim, het daar ’n rilling deur my lyf gegaan.

’n Aankomende kar het vir ’n oomblik sy ligte op ons gegooi.

Sy dreads, wat hy heeltyd onder sy hoodie verberg het, het nou los gehang. Sy gesig was erg verbrand.

Dis amper verby, praat ek myself moed in. Ons het uiteindelik die monster vas.

Ek voel-voel onder my klere aan die afluister-toestel om myself gerus te stel. Dit is toe hy die blink mes op my rig dat my kollegas hul voertuie se ligte op hom skyn.

“Jy is omsingel, Hakkelberry! Gooi jou wapen neer! Good job, konstabel!” was die mooiste woorde wat ek nóg gehoor het.

“All in a day’s work, kaptein,” antwoord ek en vat ’n sluk van my nou warm cider . . .

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters