10 maande gelede
Peter hou sy lyfspeurder om die killer vas te trek
 ~ 

DIE dood van Kenneth Stemmet, ’n bekende spietkop in die dorp, wat aan ’n hartaanval gesterf het, het ná sy begrafnis steeds die dorp aan die gis.

Sy weduwee, Aroeska, en twee seuns, Jan en Thomas, treur steeds, maar inwoners fluister agter geslote deure . . . Lees vandag die slothoofstuk in KEITH MEYER se kortverhaal: Spietkop se rolstoel Spin.

By die plaaslike handelshuis waar inwoners gedurig bymekaarkom tydens inkopies is die skindertonge die langste.

Peter Laing, die verkoopsman by die handelshuis, gooi taamlik varkoor soos die stories in sy teenwoordigheid uitgepak word.

“Man, ek sê jou, Kenneth se hart was sterker as ’n bees s’n.

“Daai fikse cop kon harte breek, maar nie ’n hartaanval kry nie.

“Something’s fishy, sê ek jou,” skinder Agnes, die ontvangsdame vir die plaaslike dokter.

Dis tóé dat Peter onthou van die dag toe iemand, wat half vermom was en agter ’n bril en hoed geskuil het, kom onkruiddoder koop het.

Snaaks, het hy daardie dag gedink, dat die persoon se stem bekend geklink het, maar die gesig was te bedek om te herken.

Dis tóé dat Aroeska die winkel binnestap en hy met haar ’n geselsie aanknoop.

“Dagsê, my sussie, en hoe gaan dit vandag?” vra Peter vir Aroeska. Toevallig is dit sy niggie vir wie hy baie omgee.

“Peter, dis maar vreemd om Kenneth nie meer in die huis te hê nie.

“Die seuns mis hul pa ook, maar soms raak hulle gefrustreerd omdat dit mos nou uitgekom het van Sweetness, sy skelmpie innie Toun.

“Ek try hulle comfort, maar die bitterness slaan gou deur. So, dis maar ’n tweestryd.

“Ek worry nie meer oor wat hy gedoen het nie, want dit sal hom mos nie terugbring nie.

“Gelukkig het hy goed vir ons nagelaat. Volgens die lawyer is daar vir my R2 miljoen en R1 miljoen vir elke kind. So, ons is uitge-sort.

“Dit compensate vir die loss en die seer.”

Die twee seuns, Thomas en Jan, is oorgehaal om uit hul nuwe rykdom te skep.

Hul pa vergete.

Maar iets bly krap aan Peter. En toe begin hy self speurder speel. Hy raadpleeg weer vir Agnes, die dokter se ontvangsdame.

Sy bevestig ’n hartaanval was die oorsaak van Kenneth se dood.

Daardie aand lê en gesels Peter en sy vroutjie, Mary.

“Mary, iets pla my.

“ ’n Week vóór Kenneth se dood, het ’n vreemde persoon – wat tog vir my bekend voorgekom het onder ’n donkerbril en hoed – by my kom insekdoder koop.”

“Hoekom is dit dan snaaks?

Dis mos jou werk om sulke goed te verkoop?” vra Mary.

Peter verduidelik dat hy ’n bietjie speurwerk gedoen het en gaan Google het dat sommige gifstowwe, as dit deur die mens ingeneem word, ’n hartaanval kon veroorsaak of dat die dood soos ’n hartaanval sou vertoon.

“Dan moet jy met die stasiekommissaris, lt. Len Cedras, gaan gesels,” moedig Mary ­Peter aan.

“Maar, Mary, ons is dan familie, en sê maar dit is nie so nie, gaan Aroeska my lewenslank haat.

“Aan die ander kant, ek kan nie stilbly nie, dan is ek medepligtig,” worstel Peter en rol daardie aand om en om in sy bed.

Toe die dag breek, besluit hy hy gaan sy vermoede met lt. Cedras bespreek.

Famile of te not, die waarheid moet seëvier.

Lt. Cedras besluit om die saak op te neem en sit sy topspeurder, Conor September, op die job.

Intussen betaal die polisgeld uit en die Stemmet-gesin is op ’n shopping spree.

Die seuns se blink jammies – Thomas se een is automatic vir ’n gestremde persoon – staan in die jaart, music klop hard en die spirit is hoog, toe speurder September hul fees onderbreek.

“Dagsê, boys,” groet hy op sy kenmerkende manier, net ’n kuggie in die stem en ’n tong wat oor sy twee vaal lippe lek.

“Ek wil net gou iets vra. Was een van julle dalk onlangs by die handelshuis om iets te koop?

“Want sien, ons vermoed nou dat ’n persoon wat vermom was, onkruiddoder gekoop het.

“En volgens my navorsing veroorsaak daardie gif ’n toestand wat tot die dood lei en alles na ’n hartaanval laat lyk. Jul pa is mos aan ’n hartaanval dood.”

Thomas en Jan lyk albei verbaas.

Jan sê: “Wie sou my pa wou doodmaak?

“Tog nie sy skelmpie nie, want sy weet nie eens waar ons woon nie?

“Al was hy ’n joller, hy was steeds my pa.”

Thomas spin in sy rolstoel om: “Trek net die skelm vas, asseblief. Sodat ons kan closure kry.

“My pa het nie verdien om vermoor te word nie as dit so is.”

Speurder September haal ’n ­lasbrief uit om die huis te deursoek.

Die seuns skop vas, maar laat hom uiteindelik toe om die huis binne te gaan.

Elke vertrek word deur ’n span speurders gefynkam.

Elke botteltjie word aan geruik en ingepak as bewysstukke.

Die seuns slaan die petalje gade en op daardie tydstip kom Aroeska ook daar aan.

“Wat gaan aan?” en Jan verduidelik wat aan die gebeur is.

Sy is verslae en bars in trane uit.

Dan vra September wie se laptop in die voorkamer staan.

Thomas antwoord dat dit syne is. Hy gee sonder teëstribbeling die password.

September snuffel op die laptop se Google history en kom op iets interessant af: “How to copy a real heart attack”.

En by verdere ondersoek word daar aangedui dat ’n sekere ­onkruiddoder ’n hartaanval kan veroorsaak!

Nou begin die familie na mekaar kyk. Almal dink dis Thomas wat dalk die gif gekoop het, want dis op sy laptop.

Thomas bewe en begin huil.

Sy rolstoel spin dadelik in die rondte. Sy ma bars uit in ’n histeriese bui en gil soos sy flou neerslaan.

Toe sak September af: “Is jy die enigste persoon wat toegang tot jou laptop het met daardie ­password?

“Indien wel, moet ek jou arresteer as die verdagte in die moord op Kenneth Stemmet, jou pa.”

En voordat Thomas kan antwoord, kom die woorde skor en stotterend oor die lippe van Jan: “Ek het ook toegang tot die laptop.

“Dis my search.

“Ek was vermom by die handelshuis.

“Ek wou my pa net verlam omdat hy my ma verneuk het. Toe sterf hy.”

Speurder September arresteer ’n stom Jan terwyl sy broer, Thomas, sy ma nog lawe nadat sy bygekom het.

Die bure in die straat drom almal saam en staan verstom toe Jan uit sy ouerhuis kom met boeie om sy gewrigte.

  • Slot

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters