6 maande gelede
Ou Wilson tref Frandolien in ’n toestand aan
 ~ 

ONS het kaptein Willy Wilson as ’n kettingroker leer ken. Hy is ook lief vir brandewyn en skeep sy vrou erg af. In deel 2 het hy met die vermoorde Renita Swanepoel se werkgewer, Patricia Labuschagne, gaan gesels. Sy gee hom nie reguit antwoorde op sy vrae nie en hy kan nie anders as om te wonder of daar iets is wat sy vir hom wegsteek nie. Sal Wilson daarin slaag om in die slothoofstuk van CHRISTO MEYER se verhaal Raaiseldood agter die kap van die byl te kom?

Terug op kantoor is daar ’n harde klop aan kaptein Willy Wilson se deur. Hy sit gemaklik agter sy lessenaar en neem ’n diep trek van die Stuyvesant wat hy sopas uit die pakkie gehaal het. Vir geen oomblik oorweeg hy dit om die sigaret dood te druk nie. Hy sal rook waar en wanneer hy wil. Niemand sal vir hom voorskryf nie. Reëls is in elk geval daar om gebreek te word.

“Kom in!” blaf Wilson. Die deur swaai oop.

“Wat wil jy hê, konstabel Kromboom? Kan jy nie sien ek is besig nie?”

“ ’m, Ek het ’n boodskap vir kaptein.”

“Ek luister.”

“Hier het ’n vrou gebel. Sy sê sy wil dringend met kaptein praat.”

“Dringend? En jy sê my nóú eers.”

“Dit het my skoon ontgaan, kaptein. Ek is jammer. Hier is die vrou se nommer.”

Konstabel Kromboom sit ’n stukkie papier op kaptein Wilson se lessenaar neer.

“Kromboom, jy sal jou sokkies moet optrek, anders sal jy nooit bevorder word nie.”

“Ek sal, kaptein.”

“Nog iets, Kromboom. Het jy my gesien rook hier binne?”

“Nee, kaptein. Natuurlik nie.”

“Mooi. Jy kan maar gaan. Trek die deur toe op pad uit.”

Sy oog val op die papiertjie. Frandolien Jeffreys. Nog nooit van haar gehoor nie. Kromboom het gesê dis dringend.

Laat hy maar bel en uitvind wat die vrou se storie is.

Ná twee luie antwoord sy: “Frandolien hier. Met wie praat ek?”

“Frandolien, dis kaptein Willy Wilson. Ek hoor jy soek my.”

“Sjoe, jy vat ook maar jou tyd. Watter deel van die woord ‘dringend’ verstaan jy nie?”

Wilson antwoord nie. Wie dink die vrou is sy om so met hom te praat?

“Hallo? Hallo? Kaptein, is jy nog daar?”

“Ja, Frandolien. Wat is so dringend?”

“Ek kan nie oor die foon praat nie. Kan ons iewers ontmoet? Dit gaan oor Renita Swanepoel.”

“Oukei. Waar woon jy?”

“Goodwood. Daar is ’n koffiewinkel in Voortrekkerweg naby die biblioteek. Ontmoet my daar oor ’n uur. Ek sal ’n geel rok aanhê.”

Op pad uit sê Wilson oor sy skouer: “Kromboom, as daar enige boodskappe is, laat weet my dadelik. Daar is ’n rede waarom mense die woord ‘dringend’ gebruik.”

Toe hy by die koffiewinkel instap, sien hy haar onmiddellik raak. Sy gewaar hom en wink hom nader. Sy sit alleen by ’n tafel met ’n stuk koek voor haar.

“Dankie dat jy gekom het. My senuwees is gedaan.”

“Het jy haar goed geken? Renita Swanepoel.”

“Ons het saam by Town House Properties gewerk. Ek was nie meer gelukkig daar nie en het bedank.”

“Dit moet seker hel wees om ’n baas soos Patricia Labuschagne te hê, nè?”

“Ek het nie geweet jy ken haar nie, kaptein.”

“Ek het haar ontmoet toe ek gaan navraag doen het oor Renita. ’n Regte suurknol. Sy is die een wat Renita as vermis aangemeld het.”

“Ek vertrou haar nie,” sê sy.

“Hoekom nie?”

“Die eiendomsmaatskappy is net ’n skerm. Daai Patricia is met onheilighede doenig.”

“Wees meer spesifiek, asseblief.”

Frandolien krap in haar handsak en haal haar selfoon uit.

“Lees hier,” sê sy. “Dis ’n boodskap wat Renita my kort voor haar dood gestuur het.”

Wilson se oë dwaal belangstellend oor die woorde op die selfoonskermpie.

“Hi, my bestie. Ek het vandag iets verskrikliks uitgevind. Patricia is nie die vrou wat sy voorgee om te wees nie. Ek het een van haar gesprekke toevallig afgeluister. Sy is deel van ’n dwelm- en prostituutsindikaat. Kop in een mus met die Chinese wat meisies van so jonk as 13 as seksslawe verkwansel. Ek het haar gekonfronteer en sy het net gesê as ek my lewe liefhet, moet ek my mond hou. Hoe kan ek stilbly oor so iets? So, as iets met my gebeur, wys asseblief dié boodskap vir ’n polisieman wat jy kan vertrou. Baie van hulle is korrup.”

Toe hy klaar gelees het, vra hy vir Frandolien of hy die boodskap na sy selfoon kan aanstuur.

“Hierdie is ’n groot saak. Jy moet versigtig wees. Weet Patricia jy en Renita was bevriend?”

“Ja, maar ek skrik nie vir haar nie, al verstaan ek nie mooi wat gebeur het nie. Renita het in Blouberg gewoon. Hoe het haar lyk in Kraaifontein beland?”

“Ek dink sy is in ’n lokval gelei. Dalk ’n kamstige verkoper wat haar by sy huis in Kraaifontein wou ontmoet.”

Die aand by die huis gee Willy Wilson ál sy aandag aan sy vrou.

Hy tap vir haar ’n borrelbad, was haar rug en smeer haar ná die tyd met haar gunsteling-body lo­tion in. Hy besef hy het die laaste ruk meer met die brandewyn gekuier as met sy vrou.

In die bed liefkoos hy haar soos in die nagte toe hulle pasgetroud was.

Iewers in die nanag lui sy selfoon. Hy steek sy hand uit en bring die foon tot by sy oor.

“Jy moet gou kom!” kerm ’n histeriese stem. “Iets verskrikliks het gebeur!”

Hy tref Frandolien in ’n toestand aan. Sy is die ene bewerasie.

“Ek weet nie hoe Patricia in my huis gekom het nie, kaptein. Toe ek net sien, toe staan sy voor my bed met ’n vuurwapen in haar hand en dreig om my te skiet as ek gil.”

“Wat het sy nóg gesê?”

“Dat . . . dat sy my in elk geval sal doodmaak soos wat sy met Renita gemaak het omdat ek met jou gepraat het.”

“Wat het toe gebeur?”

“Al was ek skytbang kon ek nie net bly lê en wag dat sy my met ’n koeël deurboor nie. Ek het opgevlieg en haar hand vasgegryp. Haar oë het gerek. Ek dink nie sy was so iets te wagte nie.”

“Toe neem jy haar vuurwapen af en trek die sneller?”

“Nee, dis nie hoe dit gebeur het nie. Ons het gestoei en in die stoeiery het daar ’n skoot afgegaan. Gaan ek nou van moord aangekla word?”

“Nie as ek dit kan help nie. Jy het die wêreld van ’n bose vrou verlos – ’n vrou wat daarop uit was om jou koelbloedig te kom vermoor. Jy hoef jou oor niks te bekommer nie. Ek sal weet wat om te doen.”

  • Meteens kry hy lus vir rook. Hy voel eers in sy broeksak en toe in sy hempsak. “Demmit!” vloek hy hardop. Sy pakkie sigarette lê tuis. Slot

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters