7 maande gelede
Mara en haar ma kry bitter slegte nuus
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n lekker nuwe kortverhaal in twee dele uit die pen van SALMON SMITH. Hy noem dit ’n Maand om in te Leef. Lekker lees!

Mara Swarts staar dokter Siebritz in ongeloof aan.

Sy kan doodeenvoudig nie glo wat sy nou pas gehoor het nie.

Sy knip haar oë vinnig toe sy voel hoe die trane agter haar oog­lede brand.

Nee! Dit kan nie wees nie! Nie sy nie! jaag dit deur haar gedagtes.

Sy kyk vlugtig na haar ma, wat langs haar sit. Dié lyk nét so geskok soos sy.

Mara voel hoe haar ma haar hand in hare vasgryp en dit baie styf vashou.

Sy skud haar kop. ’n Traan biggel oor haar een wang.

“Nee . . . d-dokter. Dissie waar nie! D-dokter, d-dit kannie . . .” kry sy dit stotterend uit.

Haar emosies kry die oorhand en sy kan nie haar sin voltooi nie.

Rou snikke skeur opeens deur haar lyf terwyl die trane vrylik oor haar wange begin stroom.

Mara voel hoe haar ma haar arms om haar vou.

Helen staar die dokter erg on­seker aan terwyl sy haar dogter probeer troos.

“D-dokter . . . I-is u doodseker van u saak?” vra sy.

Dokter Siebritz kyk Helen en haar dogter simpatiek aan.

“Mevrou Swarts, ek het met ander dokters hieroor gesels en hulle is dit almal eens dat Mara se kanse op herstel ongelukkig baie skraal is.

“Soos ek gesê het, die tumor wat op Mara se brein ontdek is, groei teen ’n geweldige tempo.

“Om te opereer, is ’n groot risiko.

“Die kans dat sy só ’n operasie sal oorleef, is omtrent nul uit honderd.

“Die opsie van chemoterapie is ook uitgesluit.

“Haar liggaam se weerstand is te swak om daarmee te deal.

“Daar is werklik niks wat ons hieraan kan doen nie.”

Hy haal eers diep asem en sy stem is effe skor toe hy sê:

“Mara het slegs ’n maand om te leef.

“Ek is regtig baie jammer.”

Helen kan nou nie meer haar opgekropte emosies terughou nie. Die sterk pastoorsvrou wat altyd almal se sorge op haar skouers laai, is nou by breekpunt.

Sy bars in trane uit.

“O, Here. Hoekom my kind, Mara!” weergalm haar geweeklaag deur dokter Siebritz se spreek­kamer.

’n Wyle klou ma en dogter mekaar krampagtig vas, terwyl rou snikke deur hul liggame skeur.

Dokter Siebritz laat hulle begaan.

Toe dit lyk asof Mara en haar ma hulle klaar uitgehuil het, staan dokter Siebritz op en gee elkeen ’n bemoedigende drukkie en ’n handdruk.

Hy hou Mara se hand ’n oomblik langer vas.

Daar is simpatie in sy oë terwyl hy haar aankyk.

“Mara, my spreekkamer se deur staan wyd oop vir jou as jy morele ondersteuning nodig het.”

“Dankie, dokter,” prewel Mara saggies en knik liggies.

Tuis wag Mara se pa, pastoor Allan Swarts, hulle in.

Hy is platgeslaan toe hy die nuus hoor.

Hy neem Mara in sy arms en druk haar teen sy bors vas.

“Mara, my kind, ek is só jammer dat ek nie daar saam met jou was toe jy die slegte nuus gekry het nie.”

Mara druk haar gesig teen haar pa se bors en rou snikke skeur weereens deur haar tenger liggaampie.

Ná ’n ruk maak sy haar los uit haar pa se arms en snik: “Ek gaan kamer toe. Ek wil alleen wees.”

Sy verdwyn vinnig by haar kamer in en trek die deur agter haar toe.

Helen kom staan voor haar man en kyk hom teleurgesteld aan.

“Jy kon vanoggend saamgegaan het dokter toe.

“Maar, nee, jy moet mos jou gemeente eerste stel.”

“Maar, Helen, een van my gemeentelede se moeder het vanoggend afgesterf.

“Ek móés my morele ondersteuning gaan gee het,” kap haar man terug.

Daar is trane in Helen se oë.

“Ja, maar toe jy hoor dat die dokter jou dogter só dringend wou sien, kon jy mos geweet het dis baie ernstig.

“Jy het geweet dit gaan oor die toetse wat hulle op haar gedoen het en oor die groeisel in haar kop. Die alewige hoofpyne waarvan sy so gekla het – ”

“Oukei, oukei. Dis nie nodig om my te kruisig nie, Helen,” val hy haar in die rede.

“Ons moet albei nou sterk staan ter wille van Mara.”

Maar dáárdie aand breek iets in Helen se man.

Sy tref hom in trane in hul slaapkamer aan.

“O, God, hoekom mý enigste kind! My oogappel!” gaan hy behoorlik gal af.

“Sy is maar nou eers 18 jaar oud. Hoekom wil U haar só vroeg van ons wegneem?

“O, Here, ons het dan nog só baie mooi dinge vir haar toekoms beplan.

“Sy wou nog volgende jaar in die regte gaan studeer,” snik hy.

Hy vee die trane met sy hand van sy wange en bid: “Here ons is u dienaars. Ons het ons dogter van dag een af in die kerk grootgemaak. Sy het U altyd getrou ge­dien.”

Helen kom sit by haar man op die bed en slaan haar arms om hom.

Sy druk hom sommer styf teen haar vas.

“My man, ek het óók so gevoel, maar later besef dat die Here van beter weet.

“Ons moet in sy weë berus,” troos sys.

Die daaropvolgende dae word Mara al hoe stiller.

Sy is nie meer die spontane kind met die borrelende persoonlikheid nie.

Helen tref haar soms in die tuin aan, waar sy ure lank na die blomme en plante staar.

En tóé breek die Saterdag – ’n week nadat dokter Siebritz hulle die slegte nuus meegedeel het – aan.

Op dié dag tref ’n tweede skok Helen.

Dit is toe sy die aand van die vrouekomiteevergadering terugkeer, dat sy die vreemde geluide uit Mara se kamer hoor.

Sy haas haar na haar dogter se kamer en stoot die deur saggies oop.

Wat sy in Mara se kamer sien, jaag ’n ysige gevoel agter haar rug af.

Haar mond val sommer oop van erge skok.

Daar kom sit onmiddellik ’n beklemmende gevoel op haar bors.

“M-Mara . . . my kind?!” hyg sy dit uit.

  • Lees volgende week verder

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
5 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters