7 maande gelede
Ma Sarie worry oor Boetman so laat nog uitbly
 ~ 

OOR Ma Sarie aanhoudend gekerm het dat sy ’n kleinkind wil hê, besluit Boetman om iets daaraan te doen. Hy besoek apostel Derrick se plek van aanbidding sodat dié vir hom kan bid vir ’n lewensmaat. Gaan apostel Derrick se gebed die gewenste uitwerking hê of is Boetman maar bestem om die res van sy lewe ’n alleenloper te wees? Kom ons kyk wat gebeur in die slotgedeelte van ’n Vrou vir Boetman deur CHRISTO MEYER. Lekker lees.

Dis byna twee en ’n half maande later. Toe Boetman een Woensdag teen 20:15 nog nie tuis is nie, begin Ma Sarie erg onrustig raak.

Hy stap gewoonlik by die deur in kort voordat 7de Laan se ken­wysie begin speel, maar dié aand is daar g’n teken van hom nie.

Ma Sarie het al hoeveel koppies tee gedrink om haar senuwees te kalmeer, maar sy kan die vreemde gevoel in haar binneste net nie afskud nie.

Het daardie skurke wat ’n paar dae tevore uit aanhouding ontsnap het, nie dalk vir Boetman beetgekry nie? Het hulle hom nie dalk . . . ?

Nee, sy moet glad nie aan so iets dink nie.

Sy onthou meteens die woorde van die TV-nuusleser: “Die polisie vra die publiek om op die uitkyk te wees vir die voortvlugtiges. Hulle waarsku mense ook om die voortvlugtiges nie te konfronteer nie. Hulle is uiters gevaarlik.”

Ma Sarie draai die TV se klank sagter en gaan bekommerd buite op die stoep staan. Sy kyk met afwagting in die pad af. Waar kan Boetman wees?

“Is alles orraait, Sarie?” vra Dinah, haar nuuskierige buurvrou, oor die muurtjie.

Sonder om in Dinah se rigting te kyk, antwoord Sarie: “Ai, Dinah, ek wil nie onnodig spoke opjaag nie, maar ek worry oor Boetman. Kyk waar staan die tyd al. Hy kom nooit so laat van die werk af nie.”

“Nou bel hom en hoor waar hy draai,” stel Dinah voor.

“Ek het gebel. Boetman se foon lui net.”

“Miskien is die foon op silent. Hy wil seker nie gepla wees nie.”

“Bog, man. Boetman se sel is nooit op silent nie. Dis ’n reëling tussen my en hom. Vir noodgevalle soos nou.”

“As ek nie van beter geweet het nie, sou ek gesê het Boetman kuier by ’n meisie. Maar jy weet net so goed soos ek – so iets sal nie sommer gebeur nie,” sê Dinah en gee ’n kekkellaggie.

Sarie wil haar vererg. Dinah het nog tyd vir grappies maak. Besef sy nie die erns van die saak nie?

Sarie Willschut verstaan dit nie. Ander aande dié tyd is haar seun lankal by die huis. Wat gaan dan vanaand aan?

Boetman is tog nie iemand wat draaie loop nie. Hy kom gewoonlik reguit huis toe van die werk af.

En wat haar verder kwel, is dat sy selfoon net lui. Dis nie hoe hy is nie. Hy antwoord altyd.

Kopskuddend gaan sy die huis binne. Met ’n sug gaan sy by die kombuistafel sit. Sy sal pastoor in kennis moet stel. Hy sal weet wat om te doen.

Al wil sy nie daaraan dink nie, kan sy nie help om te wonder of Boetman op die trein of op pad van die stasie af iets oorgekom het nie.

Met ’n swaar hart staar sy voor haar uit. Sy hoop nie Boetman het seergekry nie.

Dis genoeg dat sy haar dogter ’n paar jaar gelede in ’n bendeskietery verloor het. Nie haar seun ook nie!

Past. Roberts antwoord dadelik toe sy hom bel. Sy vertel hom van Boetman.

“Ek is nou daar, suster,” sê hy. “Probeer net kalm bly.”

Roberts woon minder as vyf minute se ry van die Willschuts af. Toe hy opdaag, groet hy beleefd en vra uit oor Boetman.

“Het suster en hy dalk ’n uitval gehad?” wil hy weet.

“Nee, pastoor. Niks van daai aard nie. Ek weet nie waar hy kan wees nie,” sê sy.

Sy sien hoe die pastoor oor sy bles vryf.

“Is Boetman nie dalk met verkeerde vriende deurmekaar nie?” vra hy.

Ma Sarie trek haar asem skerp in. “Nooit! Hoe kan pastoor so iets van Boetman dink? Hy is te ordentlik.”

“Ek vra maar net, suster. ’n Mens kan nooit seker wees van jou kinders se doen en late nie.”

“Ons sal seker by die polisiestasie moet uitkom,” stuur Ma Sarie die gesprek in ’n ander rigting. “Dis immers hul werk om vermiste persone op te spoor.

“Ek het hier iewers ’n foto van Boetman.”

Die pastoor trek sy oë op skrefies. “Wag nou, suster. Moenie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie. Kom ons doen eers ’n gebed en vra die Here vir leiding.”

Ma Sarie wil sê hulle moenie verder tyd mors nie en dadelik na Boetman gaan soek, maar uit re­spek bly sy stil.

Roberts begin bid. Hy het skaars “amen” gesê, toe Ma Sarie ’n voertuig buite hoor stilhou. Sy kyk fronsend na haar kerkleier.

“Verwag suster gaste?” vra hy.

Voordat ma Sarie kan antwoord, is daar voetstappe en ’n klop aan die voordeur.

Sy maak oop en sug verlig toe sy Boetman voor haar sien staan. Maar wie is die onbekende man en vrou saam met hom?

“Ma, laat ek Ma voorstel aan apostel Derrick. Apostel, dit is ma Sarie, my dierbare moeder.”

Ma Sarie nooi die besoekers in. Sy kyk kort-kort in die rigting van die jong vrou wat nog nie ’n woord geuiter het nie.

Wie is sy? wonder ma Sarie.

“Suster Sarie, u wonder seker oor die doel van ons besoek,” sê apostel Derrick ná ’n ruk.

“Ek brand nogal om te weet wat aangaan,” sê ma Sarie.

“U seun het iets reggekry wat ek nie geglo het sommer sal gebeur nie.”

“Wat het Boetman dan gedoen, apostel?”

“U hoef nie so bekommerd te lyk nie, suster. Ek bring goeie nuus.

“Boetman het daarin geslaag om die hart van my regterhand te steel. Ontmoet Cassandra, u aanstaande skoondogter.”

Ma Sarie se mond hang oop. “Apostel, moenie sulke grappies maak nie.”

“Dis nie ’n grap nie, Ma,” sak Boetman af. “Ek en Cassandra is verlief. Ek het haar by apostel Derrick se plek van aanbidding ontmoet.”

Ma Sarie draai haar kop na past. Roberts, wat stomgeslaan na haar kyk. Hy trek sy skouers op.

“As ek Ma se seën kan kry, wil ek graag met Cassandra trou.

“Ma soebat mos nou al hoe lank vir ’n kleinkind.”

Ma Sarie antwoord nie dadelik nie. Dit voel so onwerklik – asof sy besig is om te droom. Hoekom het Boetman haar niks van sy liefdesplanne vertel nie?

“Natuurlik,” antwoord ma Sarie. “As Cassandra jou gelukkig maak, kan jy gerus met haar trou. Ek sal nooit in jul pad staan nie.”

Boetman gee sy ma ’n liefdevolle drukkie. Op daai oomblik is ma Sarie bly sy’t haar seun so verpes om ’n vrou te kry. Anders het hy seker altyd op die rak bly sit.

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters