5 maande gelede
Klara wil braak toe sy die vrou voor haar sien
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons die tweede aflewering van SALMON SMITH se kortverhaal “Agter toe Deure”.Dit gaan oor ’n vrou wat glo iets onheiligs gebeur in haar buurman se huis. Laas week het die eerste aflewering geëindig waar Klara Bronkhuys en die twee polisiemanne ’n skokontdekking in die buurman se huis doen . . .

K

lara Bronkhuys, sersant Bruwer en konstabel Bruintjies staar geskok na die toneel voor hulle.

“O my aarde!” is ál wat Klara kan uitkry en sy voel hoe die suur braaksel dreig om in haar keel op te stoot.

Sy sluk dit vinnig weg en dwing haar oë terug na die toneel.

Oral is bloedspatsels teen die mure en op die vloer. En daar op die vloer, in die middel van die voorhuis, lê ’n tenger vroutjie wie se oë potblou en toegeswel is.

Haar geblomde rok is knalrooi gevlek van die bloed. Dit lyk asof haar een been en albei arms gebreek is. Sy probeer beweeg, maar is weens die pyn te swak.

Langs haar kniel ’n meisie van so vier jaar oud. Sy klou bevrees aan haar ma se bebloede rok vas.

Sy kyk met pieringgroot traangevulde ogies op na hulle en haar lyfie bewe onbeheers.

Dis sers. Bruwer wat eerste tot verhaal kom.

“Konstabel, gou! Laat kom die ambulans!” beveel hy sy kollega dringend.

Hy gaan kniel by die vrou terwyl Bruintjies hom na buite haas. “M-mevrou?”

Die meisiekind skram skielik verskrik weg, begin huil en klou styf aan haar ma se gebreekte arm vas.

Dit laat ’n pynkreet uit haar ma se keel ontsnap.

“Dit is orraait, poplap. Die omie gaan jou nie seermaak nie,” sê hy teer en draai hom na Klara.

“Antie Klara, vat haar gou hier weg, asseblief?”

Klara, wat steeds geskok daar staan, kry skielik lewe. Sy vou haar hande om die meisiekind se lyfie.

Die vreesbevange kind probeer nog aan haar ma vasklou, maar Klara maak haar handjies saggies los en tel haar op.

“Toe maar, darling. Jy is nou veilig,” troos Klara haar en druk haar teer teen die bors vas.

“M-mevrou, wat het hier gebeur?” wil sers. Bruwer saggies weet en kniel weer by haar.

Die vroutjie probeer haar mond oop maak, maar daar kom net ’n sagte gekerm uit.

“Pappa maak mammie eina!” sê die kind skielik en die traantjies stroom oor haar bol wangetjies.

Sers. Bruwer en Klara kyk die kind verbaas aan.

Baie dinge gaan nou deur Klara se gedagtes. Sy het nooit geweet hier bly ’n vrou en kind in die huis nie. Sy kan dit nie kleinkry hoekom sy hulle dan nog nooit gesien het nie.

“Wat is jou naam, poplap?” vra sers. Bruwer.

“Lolla, uncle,” antwoord sy saggies en vee die trane met haar handjie van haar wangetjies af. “My pappa se naam is Dirk. Mammie se naam is Lilly, maar sy is nou baie einatjies.”

Sy kyk met groot, onskuldige ogies na sers. Bruwer. “Uncle, maak mammie se eina weg. Sy huil baie.”

Sers. Bruwer voel hoe hier ’n knop in sy keel kom sit. “Alles is nou oukei, poplap,” sê hy skor.

Die ambulans daag toe op en vat Lilly hospitaal toe. Klara en Lolla het haar vergesel.

Daardie aand wag sers. Bruwer en sy span Dirk Rhode by sy huis in en arresteer hom vir die ernstige aanranding en mishandeling van sy vrou.

En daai aand tref die noodlot diep. Lilly sterf in die hospitaal weens die erns van haar beserings.

’n Klag van moord staar Dirk nou in die gesig.

Lolla word tydelik in Klara se sorg gelaat terwyl die maatskaplike dienste die bal aan die rol kry met die nodige aannemingsproses.

Die moordsaak word sommer onmiddellik na die Kaapse hooggeregshof oorgeplaas. In die hofsaak kom dit toe uit dat Dirk sy vrou gereeld mishandel het.

Hy is uit sy vorige dorp weg oor die gemeenskap hom wou aanrand omdat hy so met sy vrou aangaan.

Hy het toe een aand, ’n jaar gelede, stilletjies met sy gesin verkas en by die huis in die stil dorpie Onzerust ingetrek.

Daar het hy soos ’n kluisenaar gelewe en met niemand gemeng nie. Maar die vraag op almal se lippe is – hoekom het hy dan sy vrou en kind so vir die wêreld weggesteek?

’n Sielkundige is deur die verdediging ingespan om in Dirk se kop te gaan rondkrap en ter versagting te getuig.

Dr. Holtzamen getuig toe: “My pasiënt Dirk Rhode is deur ’n baie traumatiese ervaring toe hy sy eerste vrou kaal saam met ’n ander man in die bed gevang het.

“Die vrou wat hy met sy hele wese liefgehad, gekoester en vertrou het, het daardie aand sy siel uit sy liggaam geruk en hom met ernstige sielkundige letsels agtergelaat.

“Hy het vir jare nie weer in vroue belang gestel het – totdat hy Lilly ontmoet het.

“Hy het met haar getrou, maar sy vorige ervaring het sy ego ’n ernstige knou gegee en hy het ’n heilige vrees ontwikkel dat dieselfde ding weer kan gebeur.

“Hy het natuurlik besitlik en jaloers geraak en kon selfs nie vat dat ander manne net na sy vrou kyk nie.

“Hy het haar begin slaan en toe na Onzerust verhuis waar niemand hulle ken nie.

“Sy sielkundige toestand was van so ’n aard dat hy sy vrou en kind vir die buitewêreld weggesteek het.”

Regter Tieties het nie slange gehang met sy uitspraak nie: “Die beskuldigde, Dirk Rhode, het oorgenoeg tyd gehad om hulp te soek vir sy sodanige sielkundige toestand. Hy het sy vroutjie, wat hy moes liefhê en beskerm, wreedaardig gemartel.

“Dit het oor ’n baie lang tydperk gebeur. Daardeur is sy onskuldige dogtertjie ook aan die trauma blootgestel.

“Hy het agter ’n sogenaamde sielkundige toestand geskuil, maar het presies geweet wat hy aanvang.

“Daarvan getuig die hoë muur wat hy eiehandig om sy huis gebou het en die poging om sy huis se mure klankdig te maak.

“Dít is gedoen om die mishandeling en pynkrete van sy vrou vir die buitewêreld weg te steek.

“Danksy die besorgde buurvrou, Klara Bronkhuys, kon die polisie optree. Ongelukkig kon dit nie die lewe van Lilly Rhode red nie.”

Regter Tieties het Dirk direk in die gesig gekyk en gesê: “Dirk Rhode, jy is ’n jaloerse sadis wat jou eie belange bo die welstand van jou vrou en kind gestel het.

“Jou soort moet sit. Ek gaan vandag van jou ’n voorbeeld maak wat as afskrikmiddel sal dien vir dié mans wat hul vroue so gruwelik mishandel en dink hulle kan daarmee wegkom.

“Ek vonnis jou effektief tot 25 jaar vir die moord op jou vrou!”

En toe weergalm die slag van die regter se hammertjie op die houtblok deur die hofsaal.

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters