5 maande gelede
Klara meen haar buurman is besig met bose dinge
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons die eerste aflewering van ­SALMON SMITH se aangrypende verhaal Agter toe Deure. Hy het die kortverhaal spesiaal in twee dele geskryf om Vrouemaand, wat elke jaar in Augustus gevier word, mee af te sluit. Hy spreek die probleem van vrouemishandeling aan en hy hoop dit spreek tot elke man wat al sy hand vir ’n vrou gelig het. Geniet dit . . .

‘D

ora, ek sê vir jou, hier langsaan gaan ­duistere dinge aan,” fluister Klara Bronkhuys oor haar koppie tee aan haar vriendin hier oorkant haar.

Terselfdertyd beduie Klara geheimsinnig met die oë na die huis langsaan.

Dora se teekoppie vries in die lug op pad na haar mond.

Sy kyk nou ewe nuuskierig na haar tjomma. Haar ore is behoorlik gespits.

Op hul dorpie, Onzerust, gebeur maar selde iets. Enige nuus – goed of sleg – sal doen.

“Wat bedoel jy?” vra sy blits­vinnig.

Klara gee ’n vinnige blik deur haar voorhuisvenster na die huis langsaan.

Sy skuif tot op die rand van die rusbank en buig oor na Dora.

“Ek weet nie of ek my verbeel nie, maar ek hoor die laaste tyd sulke snaakse geluide by daai huis,” fluister sy verder.

“Ek hoor snags die geween van ’n vroumens.

“Dan verbeel ek my weer ek hoor ’n kind se gesoebat.”

Dora kyk Klara grootoog aan. “Haai, Klara, waarvan praat jy dan nou? Ek het dan nog nooit jou buurman met ’n vrou gesien nie.”

Dan onseker: “Die man is mos nie getroud nie, of hoe?”

“Hel, ek weet nie, Ek het nog nooit ’n vrou daar gesien in en uit beweeg nie,” sê Klara.

“Dis dalk katte wat so rumoer,” gooi Dora ’n klip in die bos.

“Hulle huil mos soos mense as hulle so spuls is. Dis mos hoeka nou hul paartyd.”

“Ek weet darem nie so mooi nie,” sê Klara nadenkend.

“Come to think about it,” sak sy skielik af, “my buurman bly nou al ’n jaar hier langsaan, maar ons inwoners hier in die straat weet nie eens wie hy is nie.

“Hy is ’n skugter mens, meng met niemand en laat ook niemand in sy plek toe nie.

“Ek het hom eendag gegroet en ’n geselsie probeer aanknoop, maar hy was so nors dat my plak sommer geval het.”

“Ja, en die man is boonop so weird,” gooi Dora weer ’n stuiwer in die armbeurs.

“Hoekom het hy dan sulke hoë mure om sy huis gebou? Met net ’n groot, voetgangerhek van sinkplaat? Lyk my die man is ’n duiwelaanbidder.”

Ná ’n kort stilte sak Dora weer grootoog af: “Die man offer seker katte hier langsaan!”

Klara kyk haar geskok aan. “Hei, jy gee my nou hoendervleis,” sê sy en loer weer na die huis langsaan.

Toe Dora later huis toe gaan, vreet dié onderwerp aan Klara.

Daardie aand besluit sy om die bul by die horings te pak.

Toe haar buurman die aand tuiskom, keer sy hom buite in die straat voor.

“Hoor hier, meneer, is jy besig om katte aan die duiwel te offer daar binne in jou huis?” vra sy hom sommer prontuit.

Dirk Rhode kyk sy buurvrou geskok aan. “Is jy beduiweld!” Sy mond gaan oop en toe soos hy na sy woorde soek.

Die geskokte uitdrukking maak gou plek vir ’n norse uitdrukking. “Waar kom jy aan dáái k*k?!” vra hy bars.

“Want ek hoor snags snaakse geluide daar binne jou huis!” kap Klara terug.

“Dit klink soos die geskree van ’n kat . . . Of is dit ’n vroumens wat so skree?”

Dit lyk asof Dirk se oë verdonker terwyl hy haar aangluur.

“Bepaal jou by jou eie besigheid, jou besige tief!” spoeg hy dit uit, maak sy hek oop en storm by sy erf in.

Klara rek haar nek om by sy erf in te loer, maar hy klap die sinkplaathek onmiddellik weer toe.

Binne die erf staan Dirk eers ’n rukkie stil.

Hy kan voel hoe die polsslag uit woede teen sy kop klop.

Die vermetelheid van die vrou om hom te kom uitvra oor sy persoonlike lewe.

Sy het nou sommer behoorlik sy bors warm gemaak.

Hy stap met afgemete tree op sy voordeur af.

Hy sluit dit vinnig oop, stap na binne en sluit dit weer onmiddellik.

Sy bloed kook sommer nou behoorlik.

Dirk gaan staan in die middel van sy voorhuisvloer.

Sy oë skiet vuur toe hy dit na die figuur daar in die oopplan­kombuis draai.

Hy klem sy hande in vuiste saam. Toe stap hy woedend sy kombuis binne . . .

Daardie aand verbeel Klara haar sy hoor weer dieselfde geween soos die vorige aande.

Hierdie keer hou dit aan tot die volgende oggend.

Douvoordag is sy uit die vere en loer deur haar voorhuisgordyne na buite.

Sy sien hoe haar buurman oudergewoonte by sy hekkie uitstap, dit sluit en aanstap werk toe.

Toe neem sy ’n besluit. Sy skakel onmiddellik die plaaslike polisiestasie . . .

Sersant Bruwer en konstabel Bruintjies trek binne minute voor haar huis op.

Sy nooi hulle na binne en vertel hulle van die snaakse geluide hier langsaan.

“Ek dink my buurman is besig met bose dade hier langsaan.

“Julle moet ondersoek gaan instel terwyl hy nie daar is nie,” sak sy vir oulaas af.

Sersant Bruwer wik en weeg hul opsies.

Hy besef dat hulle ’n lasbrief nodig het om iemand se huis te deursoek.

Skielik klink die vreemde geluid – soos iemand wat in pyn verkeer – weer langsaan op. Dié keer is dit harder.

Dít laat die twee polisiemanne gelyk hul koppe in die rigting van die huis langsaan swaai.

“Kom!” beduie sersant Bruwer aan sy kollega en hardloop vinnig na buite.

Klara storm blindelings agterna.

Bruwer haal ’n bolt cutter uit die boot van hul kar en knip die slot van die hek af.

Saam storm die twee polisie­manne die erf binne.

Hul vuurwapens is slaggereed in hul hande toe Bruwer die huis se voordeur ooptrap.

Hulle storm die huis binne, maar vries onmiddellik in hul spore toe hulle die toneel hier voor hulle sien.

Hulle snak na hul asem.

Op daardie oomblik kom Klara ook die huis binne gestorm.

Haar mond val oop van skok toe sy dít sien waarna die twee polisiebeamptes staar.

“O, my aarde!” kry Klara dit uit en haar hand skiet verbaas na haar mond.

Sy voel hoe die suur braaksel, in haar keel opstoot . . .

  • Lees volgende week verder

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters