Verlede jaar
Kenneth kuier met ’n cherry in sy spietkopkar
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons die eerste aflewering van KEITH MEYER se spanningsverhaal Spietkop se rolstoel Spin. Dit handel oor Kenneth, ’n gesiene spietkop op ’n rustige Karoodorpie, en sy sexy vroutjie, Aroeska. Kenneth het ’n skelmpie en neem ’n drastiese besluit wat baie lewens sal verander. Lekker lees . . .

Die rustige Karoodorpie Muttonburg met sy groot huise, boomryke strate en allerhande negosiewinkeltjies is net die plek waar sielerus, vriendelikheid en naasteliefde gedy.

Dit is ook die dorpie met die mooi leuse “Hier groet ons mekaar” wat op ’n reuse-advertensiebord vertoon word wanneer ’n mens die dorpie op die R62 vanaf Kaapstad binnery.

Dit skep die indruk van gemeensaamheid.

Dis hier waar die egpaar Kenneth en Aroeska Stemmet woon. Kenneth, die gerespekteerde verkeersman, en Aroeska, die double sexy huisvrou, wat op elke charity committee dien.

As daar ’n kompetisie was vir die beste tuisteskepper, dan sou Aroeska loshande gewen het.

Saam het dié twee, albei in hul late forties, twee seuns – Jan, wat na sy oupa vernoem is, en Thomas, wat aan ’n rystoel gekluister is. ’n Rugbybesering het sy tol geëis.

Thomas se toestand en Jan, die bedorwe brokkie, plaas groot druk op dié oënskynlik gelukkige gesin.

“Aroeska, ek het bevordering by die werk gekry. Ek moet nou elke derde naweek na Kaapstad gaan vir training.

“Die geld is ’n dik pak, maar die opoffering is groot. Ek gaan jou baie mis, Engeland,” en hy vryf met sy ring-hand oor Aroeska se dreads.

Vir Aroeska is dit die begin van vele naweke alleen, maar Thomas verg ál haar aandag.

Intussen begin die naweke vir Kenneth jolly-patrollie word. As hy nie karre vang nie, vang hy los cherries op.

Dit gaan sommer nice. En die een girlie, so confident en curvy met die naam Sweetness, is die meisiekind wat die meeste tyd in die spietkopkar deurbring.

En soos die noodlot dit wil hê, raak Kenneth verlief op Sweetness. Maar Kenneth try om ’n balans te hou tussen sy donker kant en sy gesinslewe.

Hy is deur die week die beste padda in die vlei.

“Engeland, kom ek vat jou vanaand vir steak by die Jerepigo Steakhouse. Hulle het die beste wyn ook,” bied Kenneth aan en Aroeska val vir sy jokes.

’n Lekker aandjie volg toe en dit word opgevolg deur ’n steamy love session op hul Sealy.

Tog voel iets vir Aroeska vreemd. ’n Sesde sintuig of vroulike intuïsie begin die oorhand kry, maar vir eers lê Aroeska maar laag.

Kenneth se selfoon bly op silent, maar tog irriteer die vibrate-klank vir Aroeska.

Sy merk ook op dat Kenneth se selfoon gedurig met die screen ondertoe lê, so asof hy nie wil hê sy moet sien wie se naam of nommer daarop verskyn nie.

Weer raak dit naweek en Kenneth is nog ’n keer weg op training. Sweetness kry ’n verrassing toe Kenneth vir haar ’n diamond ring koop.

Dit word gevier met Franse sjampanje in die Ritz-hotel. Die matras celebrate heerlik saam.

Daardie Sondag gaan Kenneth nie huis toe nie.

“Kenneth, ek wil jou iets vra. Ons kom nou al so lank aan.

“Wil jy nie ’n transfer vat Kaapstad toe nie? Dan kan ons ewige trou sweer.

“ ’n Girl smaak nie so lank sonder haar lover wees nie. Niks hou jou mos nou meer oppie plaas nie,” soebat Sweetness.

“No probs, my baby,” sê Kenneth net toe sy selfoon se ringtone “If I could be in two places at the same Time” begin speel.

Dit is Aroeska wat bel. Kenneth gee die foun net een kyk en sê: “Ek antwoord nie private numbers nie,” en hy druk Sweetness vir die soveelste keer op die bed neer.

Heeltemal uitgeput raak Sweetness aan die slaap.

Kenneth sluip vinnig toilet toe en bel Aroeska. Hy sak af: “Engeland, ek moet nog hierdie week ook hier bly. Daar is nuwe verwikkelinge. Ek verduidelik wanneer ek Vrydag huis toe kom.”

Weer staan Aroeska se sesde sintuig penorent. En selfs Jan, die stil seun, kom agter sy pa se bord hou nie sop nie.

“Ma, hoe is pa deesdae?” kla Jan. “Sy werk is dan nou belangriker as ons. En ma moet alleen met Thomas sukkel.”

Maar Aroeska probeer die blink kant bo hou en sy sê: “Dis ter wille van ons gesin, my kind.”

Jan skud net kop.

Vir maande gaan dit so aan. Maar die net om Kenneth se double life word ál nouer gespan deur die leuens wat hy moet vertel.

Praat van homself in ’n hoek vas verf!

Daardie Maandag is blou, want nou wil Sweetness weet hoe en waar hulle tweetjies aan hul future gaan bou.

Kenneth weet nie meer watter kant toe nie.

Aan die een kant is daar sy “Engeland” by die huis en hier in sy “tweede huis” in Kaapstad begin sy Sweetness nou taamlik bitter raak.

Toe pak Sweetness uit: “As jy gedink het ek is ’n onnosele curvy body sonder brains, het ek ’n big surprise vir jou, spietkop!

“Ek weet jy is ’n MM – ’n married man . . .

“F*k huis toe en besluit of jy wil terugkom.

“Ek share net op die effektetrust my shares – nie met ’n vaal huisvroutjie op die plaas nie!”

Kenneth het sy mind opgemaak. Hy het besluit hy gaan sy Engeland verruil vir sy Sweetness.

Dis net hoe om die nuus te breek. Dan, ná sy derde double Stroh Rum, roep hy sy familie byeen.

“Ek gaan die huis verlaat. Ek het ’n nuwe liefde,” sê hy half sleeptong.

Die nuus tref die gesin soos ’n Bagdad-bom. Hulle is platgeslaan.

Dan kom Thomas tot verhaal. Hy sê: “Pa, jy is vry om te gaan. Liefde onder dwang is no love at all. F*k*f net uit ons lewens uit.”

Daardie aand pak Kenneth sy laaste goedjies en gooi weer ’n dop wat hy op die kombuistafel los terwyl hy nog ’n sak gaan haal om sy goed in te pak.

Hy gooi toe nog Coke by en down die laaste druppel Stroh Rum wat oor was.

Die next oggend staan die ambulans en die cops se forensiese diens daar voor die pers huis van die Stemmet-gesin.

Kenneth is koud en dood in die spaarkamer aangetref.

Die straat gons, want Kenneth se jollery was nou al omtrent general knowledge.

Almal kyk Aroeska skeef aan. ’n Outopsie word gedoen. ’n Week later kom die uitslag: “Kenneth Stemmet is dood aan natuurlike oorsake – ’n hartaanval.”

’n Gesinslid gaan dadelik toilet toe en spoel ’n gelerige vloeistof heel verlig in die toiletpot af . . .

  • Lees die slot volgende week

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters