Verlede jaar
Kaptein Wilson vermoed Patricia dodge die vrae
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons die tweede aflewering van CHRISTO MEYER se Raaiseldood, ’n verhaal in drie dele. In deel een het die security guard Japie Swakblaas op Renita Swanepoel se lyk afgekom. Hy het so groot geskrik dat hy sonder omkyk polisiestasie toe gehardloop het. Die moorddossier beland toe op die lessenaar van kapt. Willy Wilson, ’n ketting­roker. Sal hy die stukke van die legkaart inmekaar kan pas en die moord oplos? Lekker lees.

Willy Wilson hou voor die spoggerige kan­tore van Town House Properties in Milnerton stil.

Hy kyk in die spieëltjie om seker te maak die omgewing is veilig. ’n Polisieman se lewe is deesdae niks werd nie.

Dit is die laaste maande al oor en oor bewys.

Die skurke sak op jou toe en bring jou om die lewe net om jou dienspistool in die hande te kry.

Tevrede dat daar geen gevaar in die nabyheid skuil nie, krap hy in sy hempsak en haal ’n sigaret uit die pakkie.

Terwyl hy rook, dink hy aan sy vrou. Hy hoop sy voel vandag beter.

Sy was gisteraand erg omgekrap.

“Jy moet minder brandewyn suip, Will,” het sy gesê terwyl sy die skottelgoed weg pak.

Hy’t sy glas laat sak en haar verbaas aangekyk.

“Wat is dit nou, Lilly? Hoekom het jy nou ’n probleem met my drinkery? Dit het jou dan nooit gepla nie.”

“Dit pla my lankal. Jy raak nie eens meer aan my nie. Moenie dink omdat ons 16 jaar getroud is, kan jy my afskeep nie.”

“Hoe skeep ek jou af? Ek neuk tog nie rond nie. Ek slaap dan elke aand langs jou in dieselfde bed.”

“Reg genoeg, maar as jy te veel brandewyn in jou lyf het, snork en poep jy meer as enigiets anders.

“Jy laat my nie meer soos jou vrou voel nie.”

Sonder ’n verdere woord het sy omgedraai en kamer toe geloop.

Hy’t sy skop geskud en haar agterna gestaar. Vroumense. Hulle kla oor die geringste dingetjie. Hulle is met niks tevrede nie.

Hy skiet die toppertjie deur die venster en klim uit. Dis nie nou die tyd om oor persoonlike dinge te wroeg nie.

Hy moet antwoorde vind op ál die vrae oor die vermoorde Renita Swanepoel. Hy en Lilly kan op ’n ander dag weer daardie gesprek hê.

Wat sal haar makeer? Hy is mos nie ’n alkoholis nie!

Willy wag byna ’n halfuur by ontvangs voordat Patricia Labuschagne gereed is om hom te woord te staan.

Haar sekretaresse het al drie keer kom hoor of sy hom iets te drinke kan aanbied. Elke keer het hy geantwoord: “Nee, dankie.”

Toe hy voor Patricia staan, som hy haar onmiddellik op as ’n onvriendelike mens. Of sy van nature so is of sommer net toneel speel, weet hy nie. Sy lyk nors en geïrriteerd.

Hy kan nie help om te wonder of sy getroud is en hoe sy haar man behandel nie. Haar gesigsuitdrukking alleen sal enige man teen die hoogste mure uitdryf.

“Waarmee kan ek help?” vra sy sonder om hom te groet.

“Goeie dag, mevrou Labuschagne. Ek . . .”

“Dis juffrou Labuschagne,” val sy hom in die rede. “Nie mevrou nie.” Sy hou haar hande in die lug sodat hy kan sien sy dra geen ringe nie.

“Nou goed dan, juffrou Labuschagne. Ek is kapt. Willy Wil­son, die hoofondersoekbeampte in die Renita Swanepoel-moordsaak.”

Uit sarkasme lig hy sy linkerhand sodat juffrou Labuschagne sy trouring kan sien. Dit lok nie die minste reaksie by haar uit nie. Sy kyk hom steeds droog en gevoelloos aan.

“Gee jy om as ek jou ’n paar vrae oor die slagoffer vra?”

“Dis seker reg so,” antwoord sy ongeduldig. “Maak net gou, want my dagboek is vol. Ek het ’n besigheid om aan die gang te hou.”

“Mag ek sit?” vra hy en sy beduie na ’n stoel.

“Hoe lank het Renita Swanepoel vir jou gewerk?”

“Vier en ’n half jaar.”

“Het julle goed oor die weg gekom – jy en sy?”

“Ek kom met ál my agente goed oor die weg.”

“Natuurlik. Hulle is die mense wat die geld inbring. Sonder hulle sou jy nie ’n besigheid kon run nie.”

“Luister, konstabel . . .”

“Dis kaptein,” maak hy keel skoon, “nie konstabel nie.”

“As jy persoonlik wil raak, loop doen dit op ’n ander plek, kaptein. Moet jou nie inmeng by goed wat niks met jou uit te waai het nie.

“Wat het my geldsake met jou te doen? Jy het gesê jy wil oor Renita praat, so doen dit of kry jou ry.”

Hy bly ’n oomblik stil. Is dié vrou maar oor die algemeen so grumpy? En hoekom is sy so op die verdediging?

“Weet jy van enigiemand wat rede kon hê om Renita uit die weg te ruim?”

Hy kyk haar stip aan en sien hoe sy haar vererg.

“My magtig, kaptein, jy verwag tog seker nie ek moet jou werk vir jou doen nie.

“Watse speurder is jy?”

“Wat ek probeer vasstel, juffrou Patricia Labuschagne, is of Renita enige vyande gehad het.”

Patricia trek haar skouers op.

“Hoe sal ek nou weet? Sy het nooit haar persoonlike lewe met enigeen van ons bespreek nie.”

“Dis interessant. Sy het meer as vier jaar vir jou gewerk en jy wil vir my sê jy het niks van haar geweet nie.”

“Ek is . . . was haar werkgewer. Nie haar beste vriendin nie.

“Ons het nie oor en weer gekuier nie.”

Uit hierdie skraal vrou met haar vlamrooi hare gaan hy nie veel wys word nie, besef Willy meteens. Op elke vraag van hom het sy ’n antwoord gereed.

Dis asof sy doelbewus sy aandag in ’n ander rigting wil stuur. Hy sal graag wil weet hoekom.

Miskien is dit beter dat hy gaan en ’n ander strategie uitwerk.

Patricia Labuschagne is nie op haar bek geval nie.

Toe hy hom uit die stoel lig, sien hy die verligting op Patricia se gesig.

Hy is lank genoeg in die polisie om te besef sy weet meer as wat sy voorgee. Wat steek sy vir hom weg?

“Dankie vir jou tyd, juffrou Labuschagne.”

“Plesier. Jy sal nie weet hoe bly ek is ek kon help nie.”

Bly? Probeer die vrou ’n grap maak? Die enigste ding waaroor sy ooglopend bly is, is dat hy haar nie langer met lastige vrae gaan peper nie.

“Ek gaan eers, maar as daar nog iets is wat ek wil weet, sal ek weer by jou kom inloer.”

“Onthou net om ’n afspraak te maak. Ek is ’n besige vrou.”

“Natuurlik. Mooi dag verder.”

Op pad uit glimlag Willy vriendelik vir die sekretaresse. Hy kan nie die gevoel afskud dat daar meer antwoorde in hierdie gebou lê as wat dit op die oog af lyk nie.

Gaan hy kry waarna hy soek as hy diep genoeg krap? En die miljoendollar-vraag: Het Patricia Labuschagne dalk iets met Renita Swanepoel se dood te doen?

  • Lees volgende Sondag verder

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters