10 maande gelede
Japie struikel in die donker oor ’n mooi vrou se lyk
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n kortverhaal deur CHRISTO MEYER. Dit is die eerste van drie dele en hy noem dit “Raaiseldood”.

Lekker lees!

Japie se girlfriend van die afgelope drie jaar slaap nog vas toe hy stiptelik 05:15 na buite gaan en die deur van hul wendyhuis saggies agter hom toetrek.

Hy vryf sy hond se kop. Dié stap saam met hom tot by die hekkie voordat hy die pad na die Eikenfontein-stasie aandurf.

Hy kyk op en slaak ’n sug van verligting. Die weervoorspeller was verkeerd. Dit lyk nie asof dit gaan reën nie.

Tien minute later soek Japie ’n plek om water af te slaan. Hy het van kleins af ’n swak blaas.

Dit is nog donker en die 25-jarige security guard kyk versigtig om hom rond.

Hy is nog nooit beroof of aangerand nie, maar hy weet hy kan beslis nie te oorgerus wees nie – veral nie dié tyd van die oggend wanneer die omgewing so stil en rustig is nie.

Hy hoor gereeld van tikkoppe wat vir kwaadgeld rondloop en enigiets sal gaps vir hul volgende fix. Hy bid elke oggend dat hy sy werkplek veilig sal bereik.

Die lente is hier. Dis nie meer soggens so koud soos in Julie en Augustus nie. Dit het ook nie hierdie winter so baie gereën soos ander jare nie.

Japie is veronderstel om af te wees, maar hy werk vandag in Simphiwe Mbate se plek.

Simphiwe het vir drie dae nog nie vir diens aangemeld nie en toe sy areabestuurder hom vra of hy vir oortyd kans sien, het hy onmiddellik ingestem.

Die paar ekstra randjies sal handig te pas kom.

Sy girlfriend skimp al lank vir ’n nuwe flat screen TV.

“Almal het flat screens, Japie. Dis net ons wat nog met ’n outydse 54 cm sit. Jy kan mos sommer een op skuld koop,” kla sy gereeld.

Simphiwe lê seker weer dronk iewers. Sedert sy vrou onder hom uit is, drink Simphiwe asof drank uit die mode gaan.

Sy drinkery beïnvloed sy werk negatief. Hy is moerig met almal en maak of dit die wêreld se skuld is dat dinge geheel en al skeefgeloop het in sy huwelik.

Japie haas hom na die boom aan die oorkant van die pad. Sy voet haak teen iets en hy verloor byna sy balans.

Hy uiter ’n vloekwoord. Hy trek sy zip af en doen sy ding.

Toe hy klaar is, sit hy sy selfoon se flitsliggie aan om te kyk wat dit was wat hom amper laat struikel het. Sy mond val oop. Hy trek sy asem skerp in.

Kan dit wees?

’n Oomblik lank kan hy nie beweeg nie.

Hy switch die liggie af en weer aan om doodseker te maak dit is nie sy verbeelding nie.

Nee! Hy ís sentimeters van ’n lyk – ’n vrou.

Haar oë staar leweloos na iets in die verte.

Hy gaan aan die bewe. Hier moet hy wegkom.

Japie Swakblaas kom soos ’n warrelwind in die pad af genael.

Dit is asof hy deur ’n tokkelossie uit die ooste van Afrika agtervolg word.

Sy bors is aan die brand van jare se daggarokery, maar hy verslap nie sy pas vir ’n oomblik nie.

Nog nooit in sy lewe het hy homself so yskoud geskrik nie.

Die skok oorweldig hom só dat hy byna ’n nommer twee in sy ontie maak.

Knyp-knyp en sonder om een keer om te kyk, lê Japie die rieme neer. Hy is niks lekker nie en laat weet vir mnr. Zanderplank hy moet iemand anders kry om Simphiwe se skoene vol te staan.

Sy maag is skielik so omgekrap soos die leier van ’n politieke party wat nie die uitslae gekry het waarvoor hy in ’n verkiesing gehoop het nie.

Uitasem bars Japie by die polisiestasie in.

Die twee konstabels aan diens gluur hom oopmond aan.

Sy keel is droog en sy tong klou soos superglue aan sy verhemelte vas.

Hy kry nie ’n woord uit nie. Van kop tot toon is hy natgesweet.

Hy kalmeer eers nadat hy twee glase kraanwater kafgedraf en sy asemhaling uiteindelik na normaal teruggekeer het.

Hy maak sy hemp se boonste knoop los en begin van sy grusame ontdekking vertel.

Die konstabels kyk hom agterdogtig aan. Dan kyk hulle na mekaar.

“Dit is ’n saak vir kapt. Wilson dié,” sê die een.

“Ons moet hom onmiddellik laat weet. Sit gerus. Ons sal alles op skrif moet stel.”

Japie se moed sak in sy skoene. Hy weet sommer hy kan maar die oortyd op sy maag skryf. Hierdie gaan ’n lang dag wees . . .

Willy Wilson sit by sy lessenaar. Hy maak ’n sigaret brand.

Al weet hy dis verbode om hier binne te rook, steur hy hom nie daaraan nie. Hy laat hom deur niemand voorskryf nie.

As hy ’n ding wil doen, dan doen hy dit. Basta met die res.

Vir die soveelste keer gaan hy deur die moorddossier. Die vermoorde was in haar 30’s. Donker hare, ligte gelaatskleur. Effens oorgewig.

’n Mooi vrou. Nie beeldskoon nie, maar aantreklik genoeg om die koppe te laat draai.

Ongetroud, met geen afhanklike nie. Suksesvol in haar beroep as eiendomsagent.

Sy is ’n week en ’n half gelede deur Patricia Labuschagne, grootbaas van Town House Properties, as vermis aangemeld.

Sy het net een oggend nie vir werk opgedaag nie. Dis baie ongewoon, want ’n meer lojale persoon as Renita Swanepoel kry jy nie sommer nie.

Haar selfoon was afgeskakel en daar was geen teken van haar by haar huis in Bloubergstrand nie.

Willy krap kop oor ’n hele paar goed.

Die slagoffer se lyk is onder ’n boom gevind, ’n klipgooi van die rugbyveld in Kraaifontein af.

Daar was geen krapmerke of steekwonde aan haar lyf nie.

Sy is ook nie onsedelik aangerand nie. Sy is verwurg, maar nie beroof nie.

Haar handsak met haar beursie en ander persoonlike besittings het langs haar op die grond gelê.

Dit maak nie sin nie. Wat was die motief vir haar moord?

Hy het só gehoop hierdie Swakblaas-vent het meer inligting.

Dit lyk egter nie asof hy enigiets wegsteek nie.

Volgens konstabels Moolman en Windvogel was Japie te verbouereerd om ’n verdagte in die saak te wees.

Hy sal maar met Renita Swanepoel se kollegas en bure moet gaan gesels as hy meer wil uitvind, besluit Willy.

Van een ding is hy seker: Hier iewers skuil ’n yslike mamba in die gras.

Willy Wilson ken homself. Hy sal nie rus voordat hy die vervlakste reptiel stewig vasgevat en sy donnerse kop vermorsel het nie.

  • Lees volgende Sondag verder

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters