6 maande gelede
Helen ontdek ’n tik-orgie in Mara se kamer
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons die tweede af­lewering van SALMON SMITH se kortverhaal “ ’n Maand om te Leef”.In deel 1 kry Mara Swarts slegte nuus van dr. Siebritz. Dié deel haar mee dat sy net ’n maand het om te leef nadat ’n gewas op haar brein ontdek is. Haar ma en pa sukkel om die nuus te verwerk. Lees nou die slotgedeelte van hierdie hartseerverhaal.

Toe Helen Swarts haar dogter, Mara, se kamerdeur saggies oopstoot, tref nog ’n skok haar skielik.

Sy staar oopmond na die toneel hier voor haar. Haar brein weier om dít waarna sy staar, te verwerk.

Nee! Dit kan nie wees nie! Nie in my huis nie! skiet dit deur haar brein.

Daar in haar dogter se kamer, sit Mara met nog twee ander jong meisies en drie jong seuns. Die groepie is besig om alte lekker te paartie.

Die jong meisies, Mara inkluis, is skraps geklee en dit lyk asof die jong seuns dít vreeslik geniet.

Die wynbottels lê die hele wêreld vol en sulke snaakse rap-musiek blêr uit die CD-speler op die bedkassie.

Onbewus van Helen se teenwoordigheid bring een van hulle ’n tik-lollie te voorskyn en steek dit aan.

Dít is toe dat die wrede werklikheid by Helen insink. Haar dogter en die vreemde jongmense is besig met duiwelsdinge hier in haar huis – iets wat nog nooit in haar huis gebeur het nie.

“Mara . . . My kind?!” hyg sy dit uit.

Dit is toe dat almal in Mara se kamer skielik bewus word van Helen se teenwoordigheid.

Mara se oë rek so groot soos pierings terwyl haar sogenaamde tjommies almal verskrik opspring.

“Awê, antie! Hoezit?!” groet een van die seuns haar met ’n breë, goue glimlag.

Dít is die laaste strooi . . .

Helen gryp een van Mara se hokkiestokke. Eers slaan sy die CD-speler flenters en tóé klim sy onder die jongspan in.

“Trap uit my huis, julle satanskinders!” gil sy op hulle.

Sy verjaag hulle al gillend by haar deur uit en in die straat af.

Toe sy terugkeer na haar kind se kamer, tref sy Mara in trane op die bed aan.

Sy staar teleurgesteld na haar dogter.

Sy wens dat haar man nou hier kon wees om haar by te staan, maar hy moes vanaand weer ’n kerkkonferensie bywoon.

“Mara, my kind . . . Hoekom?” vra sy skor.

Mara kyk met ’n nat gesig op na haar ma. “M-mammie . . . ek . . . k-kan nie meer . . .”

Helen se hart verteder toe sy haar dogter so broos voor haar sien sit.

Sy gaan sit by haar en slaan haar arms om haar skraal lyfie.

“Mammie, ons dien ’n lewende God. Maar hoekom maak Hy dan só?!” snik Mara.

“Van kleins af het Mammie en Dêdda my van Hom geleer en dat Hy lief is vir sy kinders.

“Maar watter liefdevolle God wil een van sy kinders wegvat?”

Helen druk Mara styf teen haar vas en laat haar toe om haar uit te woed.

“Ek het gevoel die lewe maak nie meer sin nie,” gaan Mara voort. “My hele lewe lank was ek ’n kerkmens wat nooit werklik my lewe saam met my vriende kon geniet nie.

“Het ek werklik my lewe aan die kerk gewy daarvoor? Om op só ’n jong ouderdom van julle af weggeneem te word?”

Mara kyk op in haar ma se sagte oë en sê: “Mammie, dít is hoekom ek gevoel het om my vriende bymekaar te kry en die laaste dae van my lewe ten volle te geniet.”

Helen sluk die knop in haar keel weg en sê hees: “My kind, dié jong kinders wat nou hier was, is nie jou vriende nie.

“Hulle is kinders wat jou saam met hulle oor die afgrond na die hel wil sleep.

“Nice times en paarties is nie die antwoord nie. Dit keer dat jy eendag sielsaligheid gaan verkry.

“God se werke is groot, my kind. Ons sal dit nooit kan verstaan nie al wil ons ook hoe graag.

“God het ons deur hierdie beproewing gesit om ons geloof in Hom te toets.

“Onthou jy die storie van Job? Job het tot op die einde getrou gebly aan God.

“Om jou lewe te vergooi in die wêreldse plesier is nie wat God wil hê nie. Hy het jou lief en wil nie hê dat jy verlore moet gaan nie.”

Mara vra in trane: “Hoekom wil God my dan op so ’n jong ouderdom laat sterf, Mammie?”

“Dit is God se wil en ons moet dit nie bevraagteken nie, my kind,” gaan Helen voort. “God het die mag oor lewe en dood.

“Hy is almagtig. Hy kan jou in ’n oogwink gesond maak.

“Al wat Hy net wil hê, is dat jy getrou moet bly in jou geloof tot aan die einde.”

Die laaste woorde laat Mara moed skep. Daar verskyn ’n ligte glimlag om haar mondhoeke.

“God is goed en ek sal Hom dien tot wanneer Hy my kom haal, Mammie,” sê sy en vee die trane van haar wange af.

Helen se hart verteder. Sy druk Mara styf teen haar aan.

“God se engeleskaar jubel nou, my kind,” sê sy met ’n blye hart.

Mara kyk in die kamer rond. “Ek is jammer oor die gemors, Ma. Vergewe my asseblief. Ek belowe dat ek alles hier sal opruim.”

Helen verseker haar: “My kind, jy is lankal ver­gewe. Kom laat ek ’n gebed doen.”

In die daaropvolgende dae is daar ’n groot verandering by Mara te bespeur. Sy is weer haar ou self – borrelend en spontaan.

Elke oggend dank sy God vir nóg ’n dag wat Hy haar uitgespaar het en sy bid ook die Here se wil moet geskied oor haar siekte.

Teen die einde van die maand kan Mara al ’n verandering in haar waarneem. Sy is nie meer so moeg nie en die pyn in haar kop is besig om weg te gaan.

Sy skryf dit toe aan die laaste dae van ’n kankerpasiënt – daar is nie meer pyn nie en alles lyk so mooi.

Toe breek die dag aan vir die uitslag van die laaste toetse. Haar ouers en dr. Siebritz staan om haar hospitaalbed.

Daar is opgewondenheid op die dokter se gesig toe hy die familie aankyk.

“Ek het wonderlike nuus,” sê hy met ’n breë glimlag. “Die groeisel het op ’n wonderbaarlike manier tot die grote van ’n ertjiekorrel gekrimp. En dit is besig om te verdwyn.

“Mara, jy is besig om gesond te raak!”

Trane van blydskap oorweldig die familie en hulle slaan hul arms om mekaar.

“Alle eer kom God toe, Mammie en Dêddda,” laat Mara van haar hoor. “Kom laat ons ons oë toemaak en Hom dank . . .”

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters