2 maande gelede
Dronk pa sorg toe vir sy gesin – ná sy dood
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n kortverhaal van SALMON SMITH. Hy noem dit Mishandeling. Met die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders so pas agter die rug, gaan die verhaal oor ’n pa wat sy vrou en kinders gruwelik mishandel. Lekker lees!

‘DJY moet’ie my bors warm maak’ie! Ekke sal djou klap dat djou h*l ’n nul oppie grond maak!”

Gert Biergaans gluur sy vrou oor sy bottel bier aan, terwyl hy dit hier op sy groot bierpens balanseer.

“As djy Krismisgeld wil hê, dan kan djy djou maergat loep lig en gaat wê’k!” bulder hy voort.

Katrina kyk haar man smekend aan. “G-Gert, Essie het K-Krismisklere norag,” stotter sy.

“Die arme kind het amper niks klere in haar kas nie.

“En ek moet ôs gammon en tong gaat koep. Dis Ou Krismis vandag en die winkels is vol.”

“Hey! Lines hie’ yt, djou tief!” ontplof Gert en gooi Katrina met die halfvol bierbottel.

Sy ruk haar kop net betyds weg en die bottel ontplof in duisend glasstukke teen die muur agter haar.

Van die glasstukke en bier spat oor haar.

Katrina staar haar man grootoog aan.

Gert sukkel van die rusbank af op. “Ek sal djou dood bliksem!”

Katrina draai om en vlug by die deur uit, met Gert wat agterna waggel.

Sy is soos blits by die hekkie uit en in die pad af. Hy gaan staan uitasem by die hekkie en hyg agterna: “Djy’s in djou hel vi’naand!”

Hy waggel weer terug sitkamer toe. Hy kyk na die gemors van die glasstukke en bier wat oor die vloer gestrooi lê.

“Wat ’n vermorsing van goeie goed,” praat hy met homself.

Hy loop na die yskas en haal nog ’n bier uit.

Hy plak hom weer op die rusbank neer.

“Pa, waa’s mammie?” klink ’n fyn stemmetjie skielik hier agter hom op.

Hy draai sy kop na sy elfjarige dogter wat sopas die huis binnegestap het.

“Sy’t ’n anner man loep soek!” sak hy sarkasties af.

Essie se oë val op die glasstukke daar op die vloer.

Sy snak na haar asem: “Pa het al weer met Mammie baklei!”

“Moet djý ook’ie my bors kô warm maak’ie!” gil Gert op sy dogter.

“As pa gesyp is, dan is hier nooit vrede in die huis nie!” gil Essie terug.

“Hou djou bek, as djy nie wiet waa’van djy praat’ie!” kap Gert terug.

Maar Essie is nie op haar klein, parmantige bekkie geval nie.

“Dis môre die geboortedag van Jesus! Daar moet vrede wees! Ken pa ooit vir Jesus?”

Gert trek bloedrooi van woede. Hy sukkel van die rusbank op en sy oë blits terwyl hy sy meisiekind aangluur.

“Djy f*k hier uit voor ek djou trap! Djy’s blêrrie betlak!”

Essie draai om en hardloop by die huis uit.

Sy hardloop reguit na ’n huis ’n paar blokke van hulle s’n af.

Dié huis behoort aan haar ma se jare lange vriendin, antie Retha.

Dis híér waarheen haar ma altyd kom om af te pak as haar pa so perform.

Antie Retha weet van hul huislike probleme en is altyd gewillig om te troos.

Essie klop twee keer aan die voordeur.

Sy draai sommer die deurhandvatsel en gaan na binne.

Sy tref haar ma in trane daar langs antie Retha op die rusbank aan.

“Middag, antie Retha,” groet sy vlugtig en gaan gooi haar arms om haar ma se nek.

“Pappa het weer perform, nè, Mammie? Toe maar, hy sal nog sy dag kry,” troos sy haar ma.

“Katrina, djy sal nie vir ewig só met djou kan laat mors deur daai vuilgat man van djou nie!” bulder Retha dit uit.

“Hy timmer djou al vandat djulle nog gevry het.

“Djy sal moet opstaan vir djou regte.

“Hy gee djou nie ’n sent nie en syp net sy geld uit. Nou moet djy en djou kind hierdeur suffer.

“Djy’s net ’n vrou vir hom, op pampier!

“As daai jong weer aan djou slat, dan slat djy hom terug.

“Vat sommer ’n ysterpan of koekroller, dan moker djy hom al oor sy dik kop!”

Katrina vee die trane van haar wange af.

“Hi, nee, Retha, ek is mossie ’n violent mens nie,” snik sy.

“Laat die Here maar met hom afreken.”

Retha kyk Katrina ernstig aan. “Dís hoekô dáái ding so lekker kry. Djy’s te sag vi’ hom.”

Retha trek haar skouers moedeloos op toe Katrina nie op haar mening antwoord nie. Sy gee ’n lang sug.

“Djy en Essie kan sommer môre by my kô Krismis-lunch,” bied sy toe aan. “Dis by the way net ek alleen hier.

“Djulle kan my sommer nou begin help mettie kos.”

En so is die drie hard besig met die kos.

Tussen die hartseer deur beur ma en dogter ’n glimlag uit oor iets wat Retha gesê het. Retha, die engel wat oor hulle waak.

Dis al laat in die aand toe Katrina en haar dogter huis toe stap.

Hul harte klop hoog in hul kele toe hulle hul halfdonker huis binnestap.

Hulle sien die stil figuur daar op die rusbank.

Hulle albei besef dat Gert nou vir hulle gewag het en dis nou áán in Japan.

“P-Pa, o-ons is hier,” kry Essie dit bewerig uit, terwyl sy die lig aanskakel.

Wat hulle daar op die rusbank sien, stuur yskoue rillings agter hul rug af.

Gert sit daar, skeef op die bank, met dooie oë starend in die niet.

“G-Gert . . .?” fluister Katrina saggies en raak liggies aan hom. Toe sy sy yskoue vel onder haar vingerpunte voel, toe weet sy . . .

Ma en dogter se gille weergalm deur die nag.

Die dokter wat Gert se liggaam ondersoek, bevind dat hy al vroeër die middag aan ’n hartaanval dood is.

Sy verkeerde eet- en drinkgewoontes, tesame met die uitbars­tings waaronder sy arme vrou en dogter moes deurloop, het sy tol geëis.

Katrina en haar dogter is uiteindelik verlos van die wrede mishandeling wat hulle so lank moes verduur.

Op Krismisdag kry Katrina ’n lekker Krismisboks toe sy Gert se klerekas uitpak.

Sy kom op ’n trommeltjie vol geld af, versteek daarin.

Sy tel meer as tweehonderdduisend rand daarin. Haar hart jubel van blydskap. Nou kan sy vir haar en Essie lekker uit-sort.

Uiteindelik sorg Gert nou mooi vir sy vrou en dogter – ná sy dood.

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters