8 maande gelede
Boetman se ma dink dis tyd dat hy ’n vrou vat
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n kort­verhaal in drie dele van CHRISTO MEYER. Hy noem dit ’n Vrou vir Boetman. Lekker Lees!

‘Nee wraggies, Boetman,” sê ma Sarie uit die bloute, “só kan dit nie langer aangaan nie, jong!

“Die een of ander tyd kom ’n mens mos darem tot ’n punt.”

Boetman draai sy kop en kyk verbaas in haar rigting.

Hoekom lyk sy so omgekrap? Hy het haar nie eens by die sitkamer hoor inkom nie.

Dis Sondagmiddag en soos gewoonlik sit hy vasgenael voor die televisie.

“Wat is dit nou, Ma?” vra Boetman uit die veld geslaan.

Hy haat dit om gepla te word wanneer hy na die 7de Laan-omnibus kyk.

“Moenie maak asof jy nie weet waarvan ek praat nie.

“Dis jy . . . Wanneer gaan jy vir jou ’n vrou vat?”

Boetman kyk grond toe.

Ai, net nie weer daai onderwerp nie, dink hy. Is dit nodig dat sy ma so dramaties moet wees?

“Ek is orraait op my eie, Ma.

“ ’n Vrou gaan net my lewe kom staan en kompliseer.”

“Kompliseer se voet. Jy word binnekort 33 en jy’t nog nie een keer ’n meisie aan my kom voorstel nie. Nie een enkele keer nie.

“Dit is tog nie asof jy onaantreklik is nie. Wat is dan fout met jou?”

Boetman sug. “Ma weet dan ek het ná pa se dood belowe om na Ma te kyk.”

“Ek is mos oud en lelik genoeg om na myself te kyk.

“En al het ek nie suikersiekte of hoë bloed soos die meeste vroue van my ouderdom nie, lewe ek nie vir altyd nie.

“Hoe lank moet ek nog wag vir ’n kleinkind?”

Boetman het nie ’n antwoord op haar vraag nie. Hoekom los sy hom nie uit nie? Sy weet mos hy stel in g’n vrou belang nie.

“Ek soek ’n antwoord. Dis ál wat ek vir jou sê, boetatjie. Jy is mos nie skeef nie, is jy?”

“Nee, Ma,” antwoord hy skamerig.

“Nou toe, dan beter jy ’n plan maak. Jy wil tog nie vir my sê jy kry nooit begeertes om ’n vrou by jou te hê nie. Toe jou pa jou ouderdom was . . .”

Boetman spring op en storm kamer toe. Nou maak sy ma die pap darem te dik aan.

Hy het nie nodig om langer na haar te luister nie.

“Hei, waantoe gaan jy?” skree sy agterna. “Ek praat nog met jou.”

Hy maak asof hy haar nie hoor nie. Hy klap sy kamerdeur hard toe en gaan lê op die bed.

Sy hele Sondag is bederf. Wat het in sy ma gevaar?

Sy weet dan hy steur hom nie aan vroumense nie.

Solank hy kan televisie kyk of ure lank met ’n boek in sy hand sit, is hy die gelukkigste mens onder die son.

Vir wat wil ma Sarie nou alles kom deurmekaar krap met haar geselsies oor trou en kleinkinders?

Daardie aand sukkel Boetman om aan die slaap te raak.

Sy ma se woorde spook by hom? Verlang sy werklik ’n kleinkind? Hy wens dit was so maklik soos wat sy ma dit laat klink.

Waar moet hy nou skielik ’n vrou in die hande kry?

Die meeste van die vroue hier in Spandau is tikkoppe of drankverslaafdes. Vir so ’n vrou sien hy nie kans nie.

Hy werk hard genoeg vir sy geld by die skoenfabriek in Bellville-Suid om dit op drank of dwelms uit te mors.

Nee wat, hierdie ding wat sy ma van hom verwag, is ’n gewigtige saak. Daar is geen maklike oplossing hiervoor nie.

Die dae gaan die een ná die ander verby.

Ma Sarie praat nie weer oor die vrousoekery nie, maar Boetman dink elke aand daaraan.

Hy probeer hom in sy ma se skoene stel.

Sy was stukkend toe Ousus deur die dwaalkoeël uit ’n bendelid se vuurwapen getref is.

Die pyn was nog groter toe daar tydens die nadoodse ondersoek ontdek is Ousus was vier weke swanger met haar eerste kind.

Dit is miskien een van die redes hoekom sy ma so aangaan oor ’n kleinkind.

Sy sal nooit weet of Ousus ’n seun of dogter verwag het nie.

Ten minste het sy darem die troos dat Ousus se moordenaar gevang en agter tralies is.

’n Week of wat ná sy verjaardag val Boetman se oog een oggend in die trein op ’n advertensie.

In groot swart letters staan dit daar op die wit papiertjie: “Is jy enkellopend?

“Soek jy ’n lewensmaat? Laat apostel Derrick vandag nog vir jou bid. Resultate gewaarborg.”

Onderaan die advertensie is ’n selfoonnommer.

Boetman haal diep asem. Honderde gedagtes maal meteens deur sy kop. Is dit toevallig dat die advertensie daar opgeplak is?

Dié is dalk my kans, dink Boetman opgewonde.

Dit is sy kans om sy ma se wense te vervul.

Hy hoef miskien nie meer vir lank met die titel van oujongkêrel rond te loop nie.

Hy het genoeg airtime om so spoedig moontlik met hierdie apostel in verbinding te tree.

Dit klink miskien na malligheid, maar vir hom is hierdie dalk die lig aan die einde van sy liefdelose tonnel.

Hy is moeg van sy ma se gekerm. Hy haal sy selfoon uit sy broeksak.

Voordat hy die nommer intik, kyk Boetman eers of niemand hom dophou nie.

Hy wil nie hê die mense moet dink hy is verspot nie.

Maar hulle sal nie weet hoe eensaam hy soms voel nie. Veral saans.

Hy’t nie eens meer vriende nie. Almal wat saam met hom op skool was, is getroud of in verhoudings.

Dis net hy wat niemand het nie. Hopelik verander dit binnekort met die hulp van apostel Derrick.

Boetman wil nie net voor die voet gryp nie. Van net gryp, sit een van sy niggies vandag met drie kinders van drie verskillende mans – en nie een van die kids se pa’s betaal onderhoud nie.

Sy niggie sukkel om kop bo water te hou, maar hoor is min. Daar is al klaar ’n nuwe boyfriend in haar lewe.

Toe Boetman klaar die nommer in sy kontaklys gestoor het, draai hy sy gesig in ’n ander rigting.

Die wind waai koel by die venster in. Hierdie gaan ’n goeie dag wees. Hy weet dit sommer.

Net die gedagte dat hy binnekort nie meer ’n alleenloper gaan wees nie, laat sy hart sommer vinnig klop.

Dit wys jou net, ’n mens moet nooit moed opgee nie.

Sodra jy dink alles is verlore, kom daar ’n uitweg uit ’n onverwagte oord.

Die trein stop op Bellville se stasie. Boetman klim fluit-fluit uit.

Hy kan nie wag vir teetyd om aan te breek sodat hy dié apostel Derrick ’n luitjie kan gee nie.

Waar kom die knop op sy maag ewe skielik vandaan?

  • Lees volgende week verder.

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters