9 maande gelede
Boetman maak eindelik plan om ’n vrou te vind
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons die tweede hoofstuk van CHRISTO MEYER se vervolg­verhaal ’n Vrou vir Boetman. In die eerste deel het ons Boetman ontmoet wat deur sy ma verpes word omdat hy op 33 steeds ’n alleen­loper is. Ná sy ma se laaste geskel begin Boetman dit al hoe meer oorweeg om ’n vrou te kry. Op ’n dag sit hy in die trein en koerant lees toe ’n advertensie sy oog vang: Apostel Derrick sê ’n mens moet hom bel as jy wil hê hy moet vir jou bid vir ’n lewensmaat. Dis toe dat Boetman ’n oplossing vir sy probleem sien. Lees nou verder.

By die skoenfabriek in Bellville-Suid sukkel Boetman om op sy werk te konsentreer.

Sy gedagtes is vandag elders. Hy kyk kort-kort op sy horlosie en kan nie help om te wonder of hy ’n goeie eggenoot sal wees nie.

En hoe gemaak wanneer dit by bedsake kom? Al is hy 33 het hy geen kennis op daardie gebied nie.

Hy was maar nog altyd skugter vir die skoner geslag. Sy ma het hom op skool al die dood voor die oë gesweer as hy met ’n vrou in die kooi klim terwyl hy nie met haar getroud is nie.

Miskien moet hy maar aan Suster Molly van daardie skinder­koerant skryf en advies vra.

Hy hoef mos nie sy regte naam te gebruik nie. Niemand wat die koerant lees, sal weet dis hy nie.

Terwyl die ander teetyd staan en rook, is Boetman op sy selfoon doenig. Met bewende vingers ­skakel hy apostel Derrick se nommer . . .

Die foon lui lank voordat ’n vrou in ’n fyn stemmetjie antwoord: “Plek van aanbidding, goeie dag.”

Boetman groet en vra om met apostel Derrick te praat.

“Apostel is nie op die oomblik beskikbaar nie. Wil u dalk ’n afspraak maak?” vra die vrou.

“Ja, asseblief. My naam is . . .” Boetman huiwer. Doen hy die regte ding? Is daar nie ander maniere om ’n vrou te kry nie?

“Toemaar,” stel die vrou hom gerus. “Dit is normaal om skaam te wees aan die begin. Wil u na apostel se plek van aanbidding kom of wil u hom eerder op ’n ander plek ontmoet?”

“Liewer daar by julle,” keer Boetman vinnig. “Is apostel ná werktyd ook beskikbaar?”

“Natuurlik. Ons het reeds 17:45 vandag beskikbaar – sal dit u pas?”

“Dis reg met my,” sê Boetman. “Waar is julle?”

Die vrou verskaf die adres en Boetman memoriseer dit.

Blackheath pas hom. Dis net een stasie van Meltonrose af.

Oor die etensuur kom Johnboy na Boetman en vra hom reguit of hy siek is.

“Ek is 100%,” antwoord Boetman. “Hoekom vra jy?”

“Jy is net anders vandag. Half eenkant. Ek ken jou nie so nie, man. Die ander ouens het dit ook agtergekom.”

“Ag, julle verbeel julle sommer,” praat Boetman die storie dood.

Aan die einde van die werkdag kan Boetman nie gou genoeg buite kom nie.

Hy wag nie vir sy kollegas soos op ander dae nie. Hy het nie vandag lus vir hul geselskap nie.

Hulle het vroue en kinders wat vir hulle by die huis wag. Hy het net sy ma as geselskap elke aand.

Vir ’n verandering is die treine betyds. Die wa waarin hy klim, is ook nie so stampvol soos altyd nie. Hy kry ’n sitplekkie in die hoek.

Apostel Derrick se plek van aanbidding is in die nywerheidsgebied. Toe Boetman op Blackheath-stasie afklim, het hy nog ’n hele ent om te stap. Gelukkig is dit lente en word dit nie so vinnig donker nie.

Terwyl hy stap, werk sy gedagtes oortyd. Hy worstel met ’n klomp onbeantwoorde vrae: Is apostel Derrick nie ook vals soos daardie kerkman wat sy gemeente laat gras eet het nie? Is dit moontlik dat hy ’n vrou kan kry deur gebed? Moet hy nie liewer omdraai en van alles vergeet nie . . . ?

Sy ma se gesig verskyn meteens voor hom. Hy sien die hunkering in haar oë – die hunkering na ’n kleinkind. Nee, besluit Boetman, hy sal moet deurdruk.

Van ’n afstand sien hy die grys gebou. HUIS VAN AANBIDDING staan in groot hoofletters daarop. Senuweeagtig stap hy nader.

Hy kom voor ’n deur met ’n traliehek tot stilstand. Hy lui ’n klokkie en ’n vrouestem vra oor die interkom: “Vir die rekord, identifiseer jouself asseblief.”

“Ek is Boetman Willschut. My afspraak is vir 17:45.”

“Kom gerus in,” sê die stem en die hek klik oop.

Boetman draai die deurknop en loop versigtig binne.

By die ontvangs sien hy ’n prag­tige vrou met ’n vriende­like glimlag.

“Welkom hier by ons,” sê die vrou. “Mag ál jou drome bewaarheid word. My naam is Cassandra.”

“Dankie,” sê Boetman saggies. “Wanneer ontmoet ek apostel Derrick?”

“Nie so haastig nie, broer. Apostel Derrick is ’n besige man, maar hy sal nou-nou by jou wees. Sit solank.”

Boetman verkyk hom behoorlik aan die helderkleurige skilderye teen die mure.

Die plek straal ’n warmte uit wat hy nog nooit tevore ervaar het nie.

Hy voel skielik soos ’n kind wat vir jare verlore was en uiteindelik huis toe gekom het.

Watter verrassings wag alles op my agter dié helderwit mure? wonder Boetman.

“Kom ek deel solank ’n bietjie van ons agtergrond met jou,” onder­breek Cassandra sy gedagtegang.

Boetman kyk haar aandagtig aan. Hy voel op sy gemak.

“Apostel Derrick is sy lewe lank ’n godvresende mens. Hy het in moeilike omstandighede grootgeword.

“Sy ma was ’n enkelouer. Hy het sy pa nooit geken nie. Hy lewe vir niks anders as die werk van die Here nie.

“Jy is in goeie hande. Dit kan ek jou verseker. Dit breek die apostel se hart wanneer hy verneem dat ’n gemeentelid wil skei.

“Hy sal alles in sy vermoë doen om ’n egpaar bymekaar te hou, juis omdat hy uit eie ondervinding weet hoe dit is om die liefde van net een ouer te ervaar.”

Cassandra bly ’n oomblik stil.

“Baie kerke is gekant teen ons. Hulle sê apostel Derrick rokkel hul lidmate af. Dis natuurlik nie waar nie. Die mense kom uit vrye wil hierheen.

“Anders as ander predikers, vra apostel Derrick nie ’n fooi om ’n gebed vir iemand te doen nie – sy diens is volkome gratis. En dít is hoekom die Here hom so wonderbaarlik seën.

“Hy bid siekes gesond, vir dowes dat hulle hoor, blindes dat hulle sien. ’n Man in ’n rolstoel is nou die aand genees. Hy het uit sy rolstoel opgestaan, in die straat af gehardloop en die Here die hele tyd geprys.”

Cassandra hou op praat toe ’n deur oopgaan. Boetman hoor hoëhakskoene en toe verskyn ’n aantreklike vrou met ’n geel somer­rokkie aan.

  • Met groot belangstelling hou hy haar dop. Haar glimlag alleen slaan sy asem weg . . . Lees Sondag die slot

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters