4 maande gelede
Fritz se wag skiet rower dood
Albert FritzFoto: Peter Abrahams  ~ 

DIE LUR vir maatskaplike ontwikkeling in die Wes-Kaap, Albert Fritz, was gisteroggend die slagoffer van ’n gewapende rooftog.

Een vermeende rower is doodgeskiet en nog een is gewond.

JP Smith, die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir ­veiligheid, sekuriteit en maatskaplike dienste, het agterna aan News24 gesê die skietvoorval het 09:40 buite die ­Assembly of God-kerk in Zwelitsha-weg, Nyanga, gebeur.

Smith het verduidelik Fritz was saam met een van sy beamptes toe twee mans hulle nader en hulle van hul selfone beroof.

Die aanvallers het ’n vuur­wapen op Fritz en sy lyfwagte gerig. Fritz se veiligheidspersoneel het gereageer en een van die gewapende mans doodgeskiet. Die ander een is gewond.

Een van die omstanders is ook in die voorval gewond.

Ná die voorval het Fritz met eNCA gepraat. Fritz vertel in die onderhoud dat hy in ’n voertuig vir ’n spreekbeurt by ’n jeug-event in Nyanga gewag het.

Gegooi

Hy vertel ’n man het toe die voertuig genader en die insittendes beveel om hul selfone aan hom te oorhandig.

Fritz verduidelik die man het probeer om een van sy lyfwagte te skiet, maar die vuurwapen het vasgehaak.

“Tóé het een van die lyfwagte sy foon op die grond gegooi om die rower se aandag af te lei en so het hy ’n kans gekry om sy eie wapen te rig.”

’n Geskokte Fritz vertel verder: “Ek het baie skote hoor klap. Dit was baie traumaties.”

Toe Son op Sondag gister kommentaar wou vra, het ’n polisiebeampte die selfoon van Fritz se woordvoerder beantwoord en gesê hy kan nie oor die voorval uitwei nie.

Die ANC in die Wes-Kaap het gister sy skok oor die voorval uitgespreek.

Lionel Adendorf, woordvoerder, sê in ’n verklaring: “Die ANC wens die LUR en die beampte sterkte toe terwyl hulle van dié riller-ervaring herstel.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters