2 maande gelede
Konferensie se boodskap inspireer vroue
staan saam: Dié vroue – Christene Fredericks, Ronel Barends, past. Beatrice Brouwers, Sharnine Kraukamp en Una Hammond – sê die geweld teen vroue en kinders moet stop. Foto: GREGORY NOBLE  ~ 

TALLE vroue het onlangs gehoor dat dit tyd is om hul trane af te droog en na hul oorwinning te stap – maar hulle moet by hulself begin.

Jubilee Life Ministries in Parow het sy tiende Vrouekonferensie gehou en die lewe van baie van die vroue daar verander.

Vroue het van heinde en verre gekom – so ver soos Botswana, Worcester en Beaufort-Wes – om te luister na die geseënde boodskap van apostel Jacobus Brouwers.

Hy het ook sy nuwe boek, When She Finds It, bekend gestel.

“Una Hammond, ’n konferensieganger, vertel haar lewe is verander, want sy het besef dis tyd om haar trane af te droog en in haar roeping in te beweeg.”

Verder sê past. Beatrice Brouwers, wat die gasvrou was, dit is hoog tyd dat vroue besef hulle is kosbaar en waardevol.

“Baie kere voel hulle niks werd as vroue nie, want hulle bou mure om hulle.

“Maar dis nou die tyd om op te staan en te praat, want so kom die genesing.

“Ons vroue gaan deur verwerping, seer en mishandeling, maar jy hoef nie meer in jou omstandighede te sit nie.

“Stap uit, want daar is nog hoop.”

Christene Fredericks sê haar lewe sal nooit weer dieselfde wees nie, want die ervaring by die konferensie was kragtig – veral toe sy die pragtige sang van die bekende gospelsanger Dr. Tumi ervaar het.

Ronel Barends sê weer op haar beurt dit was baie opbouend en ’n groot sukses.

“Dit was weer ’n bewys dat ons vroue kan opstaan, want ons waarde is ver bo korale,” voeg sy by.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters