5 dae gelede
DA kan beter doen as speletjies speel
Foto ter illustrasie  ~ 

DAAR is ’n grap wat nou die ronde doen waarin gesê word die Proteas het pres. Jacob Zuma as kolwer nadergetrek, want dit lyk asof niemand hom kan uitkry nie...

Miskien moet iemand die grap vir Mmusi Maimane en die DA aanstuur, want hul pogings om van Zuma ontslae te raak, raak nou belaglik.

Die agtste mosie van wantroue in Zuma het Dinsdag misluk en die DA het byna dadelik met pogings begin om die Nasionale Vergadering te laat ontbind.

Sy ondeurdagte poging is egter gedoem, want byna alle ander opposisiepartye het dit duidelik gemaak hulle steun dié poging nie omdat die kans dat dit sal slaag, feitlik nul is. Hoekom die DA nie eers sy regskenners of grondwet­kenners geraadpleeg het voordat hy tot aksie oorgegaan het nie, gaan die verstand te bowe.

As hy sy huiswerk gedoen het, sou hy gesien het hierdie plan is doodgebore.

Maar nee, die DA wou nóg politieke punte aanteken, al dui gesonde verstand daarop dat sy jongste, desperate poging om van Zuma ontslae te raak, gedoem is. Of miskien wou die voortvarende, onervare Maimane bloot eenvoudig nie na goeie raad luister nie ...

Die DA moet nou maar net ’n bietjie geduld aan die dag lê, want Desember – wanneer die ANC se nasionale konferensie plaasvind – is om die draai. Daarna hoef hy nooit weer ’n leedvermakerige Zuma te sien wat hom verkneukel in die glorie van nóg ’n oorwinning nie.

Zuma slaan duidelik nog die kitaar in sy party, al dui die getal stemme ten gunste van die mosie van wantroue vanuit die ANC dat die gatvol-faktor in die regerende party momentum optel.

Die DA kan sy tyd en energie beter aanwend deur sinvol te beplan oor hoe om die Zuma-lose ANC in 2019 by die stembus te takel – eerder as om goedkoop politieke speletjies te speel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters