2 maande gelede
SMS lieg Oompie is skotvry
spoggerig: David “Oompie” Cupido en Febe voor hul huis in Touwsrivier. Foto: netwerk24  ~ 
hoogheilig: David Cupido en sy vrou, Febe, is onlangs onderskeidelik as “doktor biskop” en “woman of excellence” ingeseën in die Your Letter Ministries-kerk. FOTO VERSKAF
opgeveil: Colin Davids het sy luukse huise verloor weens sy beweerde Ponzi-skema. Foto: PETER ABRAHAMS
spoggerig: David “Oompie” Cupido en Febe voor hul huis in Touwsrivier. Foto: netwerk24
ONWAAR: Die lieg-SMS wat die ronde doen. FOTO VERSKAF

‘ALLE klagte teen David “Oompie” ­Cupido is laat vaar. Die ­nagmerrie is finaal verby.”

So lui ’n bedrieglike SMS wat Maandag aan die beleggers van Oompie van ­Touwsrivier gestuur is.

Die Valke het egter Woensdag aan Son op Sondag bevestig die SMS versprei onwaarhede.

“Dit is nie waar dat die ondersoek laat vaar is nie. Die ondersoek duur steeds voort,” het kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, bevestig.

Die bedrieglike SMS, wat glo deur agente aan beleggers van Oompie gestuur is, lui verder: “Ons sal teen Woensdag (12 Julie) weet wanneer Oompie uitbetalings sal maak.

“Dankie vir u gebede en bemoedigings.

“O, ja, en vir dié wat sake wou maak en vir Oompie en sy agente wou doodmaak, ek wil vir julle ook dankie sê.

“As u net moet weet waardeur Oompie moes gaan. Hy is elke dag gekruisig deur mense wat hy wil help. Maar nogtans het hy harder gebid. Hy is gedeurboor en gelaat vir die dood, maar hy het opgestaan en harder probeer om ons gelukkig te hou,” lui die SMS.

Maar ’n Paarlse belegger het aan Son op Sondag gesê toe sy die SMS gekry het, het sy getwyfel of dit waar is.

“Ek het dit nie geglo nie. Hoekom skielik nou?”

Sy noem verder al die beleggers het dié SMS gekry.

“Die mense is nou regtig gatvol,” sê sy.

Daar word beweer Oompie, ook ’n pastoor, bestuur ’n Ponzi-skema met die geld van duisende mense van die plaas­ge­meen­skap­pe van Worcester, De Doorns en Touwsrivier.

Mense van reg oor die land het egter belê.

Ramovha wil nou hê beleggers moet verklarings by die Valke aflê. “Die publiek word ­dringend gevra om beëdigde verklarings by die ondersoekbeampte, lt.kol. Elizabeth de Villiers, af te lê.”

Hy het weer die publiek gewaarsku teen Ponzi-skemas.

“Ons waarsku die publiek verder om hulle nie te assosieer met beleggingskemas wat hoër as normale opbrengste beloof nie.

“Hulle moet ook versigtig wees vir beleggingsentiteite wat net kontant­deposito’s aanvaar.

“Mense moet versigtig wees met hul hard verdiende geld. Dit is makliker om geld te verloor as om dit te versamel,” sê Ramovha.

Die Valke het einde laas jaar op Cupido se huis in Touws­rivier toegeslaan waar hy sy maatskappy, 4th Power Investment, bedryf.

Hy het die mense glo derduisende rande se opbrengs belowe, maar is nie by die Raad op Finansiële Dienste geregistreer om finansiële dienste te verskaf nie.

Intussen verskyn die ander vermeende Ponzi-pastoor, Colin ­Davids, op 17 September in die Bellville-hof. Davids word daarvan aangekla dat hy die Bankwet en die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangerdienste (die Fais-wet) oortree het. Davids, ’n pastoor van die New Direction ­Grace Church in Parow, is in Junie verlede jaar op borgtog van R100 000 vrygelaat.

Hy het glo aan staatsamptenare en afgetredenes buitensporige opbrengste van tussen 48% en 84% op hul beleggingsgeld belowe.

Sy luukse vakansiehuis in Hermanus en sy huis in Plattekloof is kragtens ’n hofbevel opge­- veil.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters