2 maande gelede
‘Polisie beskerm besope bloue'
Beseer: Frikkie Isaacs sê dis ’n skande dat die polisie mekaar se dinge toesmeer. Foto’s: COLIN HENDRICKS  ~ 
Heeltemal verwoes: Frikkie se voertuig is erg beskadig.
Beseer: Frikkie Isaacs sê dis ’n skande dat die polisie mekaar se dinge toesmeer. Foto’s: COLIN HENDRICKS
teleurgesteld: Merle sê geen verklaring is al van haar man gevat nie.
Bloue: Wesley Goetham werk steeds by die Wellington-polisiestasie. Foto: FACEBOOK

DIE polisieman wat glo dronk was toe hy ’n man byna doodgery het, het die afgelope week weer in die Wellington-hof verskyn vir ’n ander dronk­­­bestuur­saak.

Maar as ’n dronk polisieman in jou vasry, kan jy maar weet dat geen geregtigheid gaan geskied nie.

Dis die gevoel van Frikkie “Kapeks” Isaacs (59) nadat ’n Wellingtonse polisiebeampte op 19 Mei in hom vasgery het.

Isaacs was weke lank in ’n koma en is onlangs ontslaan. Maar die Wellingtonse polisie het steeds niks omtrent dié saak gedoen nie.

Die polisieman, sers. Wesley Goetham, wat na bewering dronk was en teen ’n “helse spoed” in Isaacs (59) se motor vasgery het, werk steeds by dié stasie.

Isaacs sê dit voel vir hom die Wellingtonse polisiestasie “smeer mekaar se dinge toe”.

Merle, Isaacs se vrou, sê die cops was nog nooit by hul huis nie.

Isaacs sê twee polisiebeamptes het ’n verklaring by hom kom afneem toe in die Tygerberg­hospitaal was.

“Maar die dokters het hulle gesê ek is nie in ’n toestand om ’n verklaring te gee nie.”

Hy onthou hulle het gesê hulle sal hom by sy huis kom besoek sodra hy uit die hospitaal ontslaan is.

“Ek is nou al ’n maand ontslaan en nie een polisieman was hier nie.”

Isaacs sê hy gaan hom nou tot die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) wend.

“Want dit lyk nie of die Wellingtonse polisie enigiets omtrent die saak gaan doen nie.

“Sy kollegas wil hom dan nou beskerm.”

Merle sê die polisie is treurig. “Laas toe ek by die polisiestasie was, was daar steeds geen ongeluksverslag geopen nie.”

Isaacs sê :“Ek was soos ’n hond wat hulle uit die pad gehaal het.

“Ek is baie ongelukkig en ontevrede.

“Ek het by die dood omgedraai. Daai polisieman is onmenslik.

“Hy moet verant­woor­delikheid vat vir wat hy gedoen het.”

Isaacs se longe en ribbe is beskadig en sy hart het weens die ongeluk vergroot. Hy het ’n gat in sy kop en verduur baie pyn.

“Ek bid daagliks vir verligting,” sê Isaacs.

Merle sê sy slaap nie saans nie

“Ek moet heeltyd deur die nag by hom sit, want hy is in soveel pyn.”

Merle sê Goetham het onlangs in die landdroshof in Wellington verskyn vir ’n ander motorongeluk.

“Hy het in sy uniform in die hof verskyn. Toe het die landdros hom uitgejaag en gesê hy moet gewone klere gaan aantrek.”

Isaacs sê Goetham het seker gedink sy uniform sal hom uit sy moeilikheid help.

Lt. kol. Andrè Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die Wellingtonse stasiebevelvoerder het ’n ervare speurder aangestel om die saak te ondersoek.

“ ’n Saak van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek,” sê Traut.

Hy het bevestig die ondersoekbeampte het Isaacs in die hospitaal besoek, maar Isaacs was nie in ’n toestand om ’n verklaring te gee nie.

“Die Wellingtonse bevelvoerder vra dat enigeen met inligting oor dié saak na vore sal kom.

“Enigeen wat die polisie se ondersoek kan help, word gevra om speurder-kaptein Du Plessis by 021 864 9622 te kontak.”

Traut het ook bevestig Goetham het Vrydag in ’n onverwante saak in die Wellington-landdroshof vir dronkbestuur verskyn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters