5 maande gelede
Armes gaan nie die sassa-moles vergeet
Foto: Verskaf  ~ 

LIEWE Bathabile
Ek skryf hierdie briefie namens die 17 miljoen mense wat maatskaplike toelaes van jou departement ontvang
.

Ons is die mense wat op AllPay- dag of “Swipe-dag” reeds voor ­middernag in rye soos by ’n nasionale verkiesing, by die ATM’s waak. Ons wag in spanning vir ons ou geldjie. Want, sien, ons kan nie wag nie omdat die ou geldjie mos maar min is. Ons is nie ondankbaar nie, want dis al, regtig al, wat ons aan die lewe hou. Daarom is Swipe-dag al dag waarna ons uitsien.

Maar, liewe Minister, nou verneem ons daar is ernstige probleme met die uitbetaling van ons ou toelagies. En ons verneem in die media u is nogal nonchalant teenoor die lewensnoodsaaklike item.

Voordat ek verder gaan, Minister, is u dan nie die een wat na bewering gesê het ons kan op R700 per maand survive nie? En dit terwyl u derduisende rande op luxuries soos hotelverblyf, eet- en drinkgoedjies spandeer. Weet u wanneer u tot barstens toe vol geëet is, worry ons al weer hoe gaan ons hierdie maand oorleef?

Minister, u speel Russiese ­roulette met die armstes van die armes. Maar glo my, die ANC het seker vergeet dat sy magsbasis die armstes onder die armes is? En glo my, ons gaan nie vergeet nie. Die Sassa-debakel kan die dam onder die eend se gat uitruk, glo my.

Minister, my geleerde vriende staan my te vertelle dat u in 2006 glo skuldig bevind is aan bedrog en met R254 000 beboet is? Is dit waar? En nogal ’n opgeskorte vonnis ook gekry. Sorry as ek dalk nou te persoonlik geraak het.

Een ding staan soos ’n paal bo water: As daar ’n misoes gaan kom met die uitbetaling van ons toelaes op 1 April, gaan dit die begin van die Suid-Afrikaanse Lente wees.

’n Revolusie wat die struggle soos St. Luke’s-Sondagskool se piekniek sal laat lyk. Dis glo ook deel van ’n strategie om die arme Pravin weer as sondebok voor te hou.

Want, liewe Bathabile, jy weet mos die grondwethof het teen jou beslis met betrekking tot die einste uitbetalingsagentskap.

Nou wil die moedswilliges die storie versprei dat ’n bekende familie hul oog ook op die aanloklike tender het. Ek wonder maar net.

Ingeligtes wil dit ook hê dat daar aan ’n bepaalde ­agentskap geklou word teen die skrik­wekkende bedrag van R2 miljard en wil ons ook weet: Waarom?

Die styging in maatskaplike toelaes van R151 miljard tot R175,5 miljard bring verligting. Daarom vat ons nie met daai hand om geen toelaes op 1 April te kry nie. Hoop maar dis ’n 1 April-grap.

Bathabile, ons suffer reeds oor die onwettige aftrekkings van ons toelaes. Ons suffer aan die hand van familielede en veral die jonger geslag wat ons geld en AllPay-kaarte steel. Ons suffer aan die hand van loan sharks wat ons kaarte hou.

Ons suffer aan die hand van daai groen van wat toelaedae langs die uitbetaalpunte kom park en ons in die versoeking lei om nog geld te leen. Om ons wit Sassa–kaarte te vervang met groen ­kaarte ... Dis die doodsteek in die rug van ons, die lydende, onbelangrike ontvangers van AllPay.

Minister, ons lees ook hoe R316 miljoen onregmatig uitbetaal is en daar is nog ander miljoene vrugtelose uitgawes van die departement waarvan u die politieke hoof is.

Weet u hoeveel ekstra brode, bietjie meer krag op die kragboks, ’n ekstra geldjie vir medisyne (ons ken nie van mediese fondse nie) dit is? Ons smag na die ­nasionale gesondheidsversekering.

Watter kant toe ook al die debakel swaai – die kruks van die saak is, ons wag vir ons toelaes op 1 April. Anders is die hel los.

Groete

AllPay-kop

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters