4 maande gelede
Rickus se hempie protesteer soos ’n bursary student
 ~ 

DIÉ week het op ’n moeilike noot vir Amorey begin wat steeds sonder ’n salaris werk.

Sy survive tans net op die sakgeld wat haar pa haar nie meer wil gee nie en white privilege.

Dis reg, die grênd Welmans het hul jongste – die bekkige Amorey – afgesny van die gesin se miljoene en sy moet nou self sien kom klaar.

Gepraat van sien kom klaar, is Vince se hare gesny? Dis minder dik, maar dis nie ge-trim nie.

Hoekom lyk al die bruin mans in 7de Laan asof hulle na ’n blinde, cheap barber gaan?

Dis embarrassing, maar nie so embarrassing soos wat dit Donderdag vir Justin moes gewees het toe Alexa met Marko voor almal in Stasie Ses vry nie.

Pulane en Sifiso se surprise wedding was mos Donderdag in Stasie Ses, want Stasie Ses is ’n plek waar enigiets kan gebeur.

Behalwe weddings doen hulle ook drug busts, brugaande en jy kan, soos Kim, die doel van jou lewe in dié plek ontdek en binne ’n week ’n nuwe lewe in die Kaap begin nadat jy in Stasie Ses gesing het saam met ’n k*k band wat bestaan uit die wit Zoeloe-eienaar en sy neef uit Prieska.

Diederik moet meer gereeld in Stasie Ses uithang, want sy lewe het ook nog nie ’n doel nie.

Rickus se klere word by die dag kleiner. Die knopies gil en skree en protesteer soos ’n bursary student by UWK met baie k*k punte.

Die los Welman-suster, wat Vrydag met vars lokke hospitaal toe is, is toe heeltyd ’n player.

Sy speel vir team Marko, wie se vrou in die tronk sit vir moord, en sy gooi klippe in Justin se Worcester-bos. Sy wen heelpad in die rainbow nation. Stille waters . . . Dis baie duidelik dat die dinge ruk in dié stille waters.

Ek dink sy’t eerste vir Marko gesoen omdat sy gedink het Justin was nie soggens sy gesig nie.

Dalk was hy sy gesig, maar hy doen dit dan verkeerd. Ek is seker hy bedoel goed, soos met daai baard wat hy dink hy besig is om te groei.

Dis alles goed en wel, maar dit groei net op sekere plekke. En soos julle weet, lyk mans met plek-plek bewolkte baard altyd asof hulle swaar kry.

Ek is jammer dat Justin dié week so deurloop, maar hy moet ’n voorbeeld stel vir jong, bruin mans en tans doen hy bitter min reg.

Ek verwys julle nou na daai gestreepte tafeldoek van ’n hemp wat hy Vrydag aangehad het. Daar is geen rede hoekom enigeen op ’n Vrydag só k*k moet lyk nie.

Wie ook al jou soggens aantrek, koester ’n donker, gruwelike wrok teen jou, Justin. Jy’s so ordentlik, maar jy kies nie jou vriende reg nie. As ek jou vriend was, sou ek jou sê jy trek daai k*k uit en ek sal aanbied om saam met jou winkels toe te gaan. Los jou vriende! Hulle gee nie om vir jou nie.

Ouer, wit mans gaan altyd jou girls chise, want hulle sal nie weet jy sit daar nie. Hulle sal dink jy is ’n tafeldoek. Jou lewe sal nie regkom voordat jy beter keuses maak nie.

Kom ons almal bid nou dat daar Maandag ’n episode verskyn, want ek het niks anders om saans om 19:00 te doen nie en ek is bang ek begin weer drink.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters