10 maande gelede
Pleks van vir Worcester skree, maak Alexa oë vir wit Zoeloe
Foto: Gaenor  ~ 

KIM het uiteindelik ’n lewe vir haarself gevind. Wie sou nou kon dink dié meisie met die geheime voorkoms kan sing?

Soos gerugte dit wil hê, was sy mos al deur te veel oudisies op die “mics” in die Laan, maar ek het teen dié tyd count verloor van die aantal sterretjies wat sy laat val het.

Toevallig was dit haar aand toe sy nou sommer besluit om te sing.

En die mense in Stasie Ses kon net nie genoeg van haar kry nie.

Ja, ek het skoon lekker gekry en saam gesing toe “Gimme Hope Jo’anna” weer feature.

Haar ogies blink helder toe Matrone die idee van Suid-Afrika se eie Adele in haar klein koppie plant.

Sy gaan toe vir ’n oudisie, maar die realiteit van haar onbevoegdheid kry haar beet in die vorm van erge depressie.

Gelukkig kry sy toe “die call” en daar is Kim, haar kuif en ál haar aardse besittings sak en pak op pad Kaap toe.

Pulane en Sifiso kry in die middel van die week die uitslae van hul bloedtoetse.

Pulane se on­geletterde bloed slaag al wat ’n toets is.

Sy is nou regtig ’n rolmodel vir enigeen wat baklei met die alfabet.

Ongelukkig is dit toe ’n heel ander storie vir Sifiso, wat nou aan ’n vreeslike hartkwaal ly.

Dis toe glad nie Antie Aida met die groot hoes nie. Sifiso is gepla met sy hart, sjym.

Hy het ’n seldsame harttoestand wat ek vermoed ­veroorsaak word deur te veel k*k praat.

Sifiso is die hele week by die huis sonder ’n doktersbrief en Vanessa het geen simpatie nie.

Dié se hare is mos nou live en direct. Haar eie roots, punte en alles. Sy lyk pragtig so en dit verstom my keer op keer hoe pragtig sy eintlik is as sy net meer gereeld haarself wil wees.

Nou wag ons net vir Karmen se afro om ’n bietjie te daal en af aarde toe te kom, dan is almal se hare #OnFleek in die Laan.

Dr. Welman sit en suip nou elke aand by Stasie Ses, maar haar pa mag nie sy lippe naby drank bring nie. Sy het eintlik nogal ’n vuil plak, dink ek.

Justin gooi vir haar net sexy eyes, maar hy weet niks van Marko se Zoeloestreke nie. Alexa is ook nie juis lui nie en dit lyk asof sy ’n ding sal kyk by ’n ieder en elk wat haar ’n bietjie aandag gee.

As ek sy was, sou ek eerder maar vir Worcester skree, want Justin lyk nog hups.

As Emma vroeg uitkom, dan los daai wit Zoeloe jou net daar, Alexa.

Jy ken nog min jokes. Emma kom deur moord en doodslag vir whatever sy wil hê.

Glo my as ek vir jou sê: Sy sal jou uitvee nes ’n spelfout as jy met háár Marko lol.

Ons skinder weer oor ’n week!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters