4 maande gelede
Petro se dood is bewys dat jy kan vrek van suinigheid
Foto: Pinterest  ~ 

AMOREY se lelike denim shorts is regtig nie gepas vir dié soort uitstappie nie en Petro eet al heelweek skelm peanuts en raisins en tjoklits.

Die ander mense val basies flou van honger en kou lusteloos aan krieke en wurms. Selfs Marko, wat nou basies verlam is, het geen simpatie met Petro nie. Sy weerhou ’n gestremde man van peanuts en raisins, man!

Ek is tot in my fondament geskok oor Petro se gedrag. Dié bleeksiel is nie reg grootgemaak nie. Daar is ’n vrou met ’n hele boom deur haar middel, maar Petro is vasbeslote om nie haar peanuts en raisins te deel nie. Sy kon selfs die raisins deel en die peanuts hou, maar nie Petro nie!

Amorey vang haar Donderdag met ’n tjoklit. Daar baklei Petro en Amorey toe soos kat en hond oor Petro se versteekte skatte en Petro stry haar ding. Dit was eintlik Amorey se vliegtuig-snacks, maar Petro weet daar is nie reëls in Survivor Mpumalanga nie.

Ek besef Amorey was reg om kwaad te wees, maar ek sukkel om haar ernstig opneem terwyl sy ’n denim-gat-shorts dra wat los hang. Hoe hang ’n gat-shorts los, man? Hoe min hol moet ’n mens hê om ’n gat-shorts soos ’n skirt te maak lyk?

Toe skielik Donderdag om 18:15 is Petro net dood. Sneeuwitjie is oorlede sonder enige rede, maar ek sê vir julle dit was daai cheap pakkie peanuts en raisins. Die skielike verandering in lugdruk gevolg deur die week lange wegsteek in Petro se cream poncho-jersey-toppie het die goed seker vergiftig.

Kopbesering

Ek weet dis vreeslik hartseer, maar ek het gesien hoe sy daai laaste peanut insluk net voordat Diederik haar dood verklaar het. Hoe sluk ’n mens sonder ’n pols ’n peanut? En toe huil Amorey diep hartseer soos iemand wat nooit vir Petro probeer moer het nie.

Dr. Alexa skryf Petro se sterfte aan ’n ongekende kopbesering en skok toe. Dié sterfte bevestig eerder nou aan my dat ’n mens kan sterf van suinigheid. Ons moet tog reg lewe met mekaar.

Khanyi is nou ’n soort sangoma. Sy kry nou gevoelens oor dinge voordat dit gebeur. Charmaine sal ’n bok moet slag en Khanyi sal moet bos toe vir opleiding. Dié soort gawe is nie almal beskore nie. Iemand moet net haar kop beetkry met ’n stuk kous en daai saak reg vleg voordat sy haar nuwe vermoëns met die wêreld deel.

Vrydag sit daar ’n groen boomslangetjie op Marko se bors terwyl hy slaap. Diederik probeer dit verjaag en tel hom aan sy stert op en moer hom deur die lig, maar dis ’n soort ninja-slangetjie en hy pik Diederik. Die slang se gif was seker vol kennis ook, want net daar besef Diederik hy kan die vliegtuig se wrak aan die brand steek om die aandag te trek van die soek-helicopter wat dag en nag oor hul kop vlieg en nie hul vuurtjie sien nie.

Almal is vreeslik depressed en Marko smeek Alexa om ’n genade-dood, want in ’n rolstoel wil hy nie leef nie. Hy huil emosioneel met daai pap jersey-nekstut nog om sy nek sedert verlede week. Hoe ruik sy nek nie nou al nie?

Amorey en Diedie klim berge met vliegtuig-tyres en warm kole om rook te maak. Dít alles terwyl die slang se gif deur sy liggaam pols. Vrydag was darem erg dramaties, maar Suna se lewe hang letterlik aan ’n tak en dít al sedert verlede week.

Suna wil toe ook eerder doodgaan en ruk haar lyf rond sodat die tak haar verder kan beseer, maar net daar kry die helikopter hulle. Marko skree op Alexa om verlossing van die rolstoel-lewe en dis ’n vreeslike tranedal, maar Alexa stem in en steek Marko met ’n leë spuitnaald wat ’n lugborrel in sy brein sal veroorsaak en tot sy dood lei, maar ek glo niks meer nie, so ek sal tot Maandag wag om te sien of dit gewerk het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters