8 maande gelede
Hilda kon konstabels mos help affidavits uitskryf
Foto: www.sewendelaan.co.za  ~ 

DAAR wag Pappa toe Woensdag vir Hilda in die mang. Ek verkoop my kooi daar en dan as ek ooit so iets moet oorkom.

Hoekom iemand so klein en tingerig soos Hilda opgesluit moet word, gaan my verstand in elk geval te bowe. Hulle kon haar mos maar daar voor hou waar die mense met die laminated sertifikate en flip files alewig 36 matrieksertifikate op een slag wil laat sertifiseer.

Ek verkyk my soms aan daardie mense. Doen vreeslik trots vir alles aansoek met die klomp ge-chap-te copies, maar elke liewe vak was op standaard graad. Hilda kon heerlik heelnag vir die konstabels gehelp het met die affidavits uitskryf.

Watse gevaar kan Hilda tog nou moontlik vir enigeen inhou dat sy in ’n sel moet slaap? Sy’s ’n groot vrou en ’n kerkmens ook nog.

Ek was Maandag heel angstig toe Rikus sy eie pa met die moerse hande en die klipharde stem daarvan beskuldig dat hy Alexa omgestamp het.

Mens confront mos nie ander mense wat met ’n enkele klap jou lewe kan inkort nie. Veral nie as dit jou eie pa is en jy weet hy’t ’n drankprobleem, sowel as ’n vieslike humeur nie.

Ek het net my ogies toegemaak en ál my vertroue in die SAUK se “onbekwame” hande geplaas.

Daar’s reeds so baie geweld in die wêreld en nou ondersteun hierdie televisieprogram nog geweld tussen onstabiele ouers en hul eenvoudige kinders wat baie duidelik nie vreeslik waarde tot hul lewens voeg nie.

Ek het eintlik gehoop Chris klap hom, want dis wat ék sou doen. Maak nou nie saak of Rikus reg is of nie. As daai my huis was en daardie sleg kind betaal nie eens board nie, het ek hom sommer by die voordeur uitgemoer met sy foto van die bakkie en al.

Rikus is ondankbaar. Ek kan skaars tennis speel, maar as my pa my sê ek mag maar eerder dit doen pleks van gaan werk, dan hou ek my bek van my pa af en ek loop koop honderde bokse vol tennisballe sodat ek my kant kan probeer bring.

Sonde bo genade, dit lyk toe of Charmaine Vrydag seksueel aangerand is!

Ek wil nog nie praat van verkragting nie, want dit weet ek nog nie vir seker nie, maar dis baie duidelik dat Charmaine aangerand is. Mens kan ook nie met sekerheid sê of daar drank betrokke was nie, maar as mens Charmaine se verlede nagaan, dan sien mens heelwat empties op haar paadjie.

Ek sê nie dis haar skuld wat met haar gebeur het nie. Sy’s darem steeds die slagoffer in hierdie barbaarse daad.

Dalk het sy toenadering gesoek by ’n vreemde man wat haar gasvryheid misbruik het as ’n geleentheid om hierdie siek daad te pleeg, maar die punt bly staan dat daar nooit ’n rede is om ’n hulpelose vrou te verkrag nie.

Jammer dat dinge nou ernstig raak, mense, maar dis siek en horrible wat met Charmaine gebeur het etlike dae voor die einde van Vrouemaand. Dit kan met enigeen van ons se ma gebeur.

Dis dalk nie ’n mooi storielyn nie, maar dis wat deesdae meer en meer gereeld in ons gemeenskappe gebeur. Ek haal my hoed af vir die vervaardigers van 7de Laan, wat dapper genoeg is om hierdie siek kwessie onder almal se aandag te bring.

Ons skinner weer volgende week, mense!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters