9 maande gelede
Felicity gaan daai gemengde kind se ma én stiefouma wees
 ~ 

EK HET my laas week so vreeslik vir Vanessa geskaam wat so ’n groot ­scene by die hospitaal gemaak het. Dis geen wonder dat ons eers ná 1994 medical aid kon kry nie.

Hulle moes ons eers by die daghospitaal leer geduldig wees. Dié dat ’n mens vandag nog so lank wag om gehelp te word. Hulle toets ons!

Die man-veiling was toe ’n moerse mors van almal se tyd. Ek het sommer my honde loop kos gee toe daai twak begin.

Die outjie wat in ­Oppiekoffie werk met die haarstyl wat lyk soos daai sponsie waarmee ek my skottelgoed was, het toe dié week drie woorde gekry om te sê.

Ek was so trots, maar toe kom show Kosie van die slaghuis weer af met lang, lang sinne. Hoe moes Sponsklong voel?

Hulle vertrou daai Kosie met gesprekke, maar Sponsklong kry net sleutelwoorde. Ek was seer van binne vir daai klong.

Dis my plig as bruin mens om julle te waarsku. Die einde is naby.

Die goed wat nou in 7de Laan gebeur, was lankal vir ons uitgesit in die Bybel.

Ek is seker ander gelowe se heilige boeke dek ook hierdie onderwerpe, maar ek was ongelukkig net Sondagskool toe, so julle moet my verskoon.

Ek praat nou van die feit dat Felicity van haar stiefseun, Willem, ’n baba verwag.

In die Skrif praat hulle mos van Adam en Eva. Nie Eva en Adam se voorkind nie. Die arme kind se pa is dan nou sy stiefbroer ook.

As die arme gemengde kind in die nag huil, gaan Willem dan vir Felicity wakker maak en vra om hulle baba te loop versorg, of sal hy na die kind verwys as sy boetie of sussie?

Die verwarring in die ogies van die vaalkop-kind met die effe platterige neus sal jare se vermaak voorsien.

Ek hoop dis ’n seuntjie, want hoe verduidelik ’n meisiekind aan die kinders by die skool wat Bone Strait is? Hoe?

Die kind se oupa en sy ma se oorle man is dan nou dieselfde mens!

Hoe gaan die kind mondeling by die skool doen as die onderwerp ’n skoolvakansie by my stiefouma is? Jou stiefouma is dan jou ma omdat jou pa jou boetie is.

Hierdie kind gaan worstel met ’n kompleks.

Hierdie kind gaan snags wakker lê en wonder hoekom haar oorle oupa en haar ma se oorle man dieselfde naam het.

Ek hoop hierdie kind gaan slim wees, want hy of sy gaan elke breinsel nodig kry op Kersfees en verjaardae.

“Dankie mammie-ouma, dankie daddy-boetie en dankie antie-sussie vir al my geskenke.”

Moet elkeen twee geskenke koop vir die kind? Die lewe is reeds so duur en hulle drie is vir die arme skepsel eintlik ses mense.

Wie op aarde gaan die kind se blonde hare met die kous vleg?

Ek het so vreeslik baie vrae, maar die antwoorde is baie moeilik. Ons sal die kind maar moet koester en vreeslik baie diagramme en family trees teken.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters