Verlede maand
Daai sexy André is so stadig soos ’n Sassa-uitbetaling
 ~ 

JULLE, ek kan verstaan dat Vanessa se kind weg is en dat haar hele wêreld in duie gestort het, maar dis mos nie sý wat gesteel is nie.

’n Mens sou sweer Xander het nie genoeg om oor te worry nie. Sy kind is ook weg, maar hy moet nou treur én na die vrou met die klein ponytail omsien.

Vanessa maak te alles oor haarself. Toe Char­maine gesuip het, het Vanessa meer gesuip gelyk.

Toe Xander in die tronk was, was Vanessa soos een wat die doodstraf gekry het. Sy’s kwaad vir almal en alles wat in haar lewe verkeerd loop, maar voor haar eie skuifdeur wil sy nie vee nie.

Alles moet om haar draai soos vlieë om ’n drol. Sy kan gerus end kry met haar attitudes. Nou is sy gou die malste vandat Karmen spoorloos verdwyn het.

Xander wil die vrou nou by ’n sielkundige kry, maar hy vergeet hulle is bruin mense. Stadig nou, Xandertjie.

Ons mense gaan nie na sulke mense toe nie. Dis geld mors. Ons mense loop soek antwoorde in lang, bruin bierbottels of ons gaan kerk toe en probeer harder as al die ander mense sing.

Die eerste maand of twee gaan ons vir Jesus en die Bybel, maar kort daarna gaan ons vir die mense en die skinder en die hoede en die outfits.

Nou gaan ek seker weer gevloek word, maar ek praat mos nie van almal nie en julle ken mos die mense van wie ek praat.

Amos hoes nou al daai drug resistant TB-bloed by sy longe uit. Dis iets vreeslik, foei tog.

Ek weet nie hoe lank hy nog met ons gaan wees nie, maar vir sy siekbed val ek ook nie weer nie. Mense wat so gereeld op sterfte lê, is selfsugtig.

’n Mens treur en berei jouself emosioneel voor en ’n mens huil en koop nuwe swart hemde en sokkies en donker sonbrille, dan loop die sterwendes die volgende week weer die wêreld vol.

Ek voel as jy sterwend genoeg voorkom dat almal ná ’n lang dag se werk nog tyd maak om vir jou te kom groet by Tygerberg-hospitaal en daai moerse ent van die parking area na die hospitaal in die donker loop, dan is dit jou plig om at least jouself te probeer versmoor.

Dis tog net reg. Khanyi sal fine wees. Charmaine hou mos van weeskinders, so wat is nou juis die probleem?

Bonita wil ook nie luister nie. Sy is alweer besig met duister gangster-planne om Karmen terug te kry. Dis nie jou kind nie.

Jou planne verloop nooit goed nie en jou man wou jou al 13 keer los. Tot die dood het vir hom na ’n beter opsie gelyk as een van jou planne.

Jy moet hou by blomme rangskik en hare blow. Dis jou sterk punte.

Dit lyk of Chris finally ’n bietjie begin rondkyk.

Al problem is hy kyk Connie se kant toe en Connie is so irriterend ordentlik dat sy nooit sal jol nie.

Tot André die lawyer kan niks by haar reg kry nie en hy’s single.

André is omtrent hot stuff deesdae. Almal lê vreeslik by die arme man aan, maar hy is so stadig soos ’n Sassa-­uitbetaling.

Sy hemp- en daskombinasies is by tye erger as Xander se slordige pogings, maar my hoogtepunt dié week was Xander se hare wat nou skielik agter toe kan kam.

Nog nooit kon hy dit in die verlede waag nie, maar waar daar ’n wil is, maak Xander ’n weg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters