2 maande gelede
Chris dink Mariaan is weer sleg met haar balhorige padda
 ~ 

WAS dit nou nie ’n wonderlike week vol opwinding nie?

Donderdag kry Bruyn­waves ’n moerse kontrak vir ’n event, maar dis vir 500 mense en hulle het net 4 dae. Nog nooit in die geskiedenis van bruin mense het ons al ooit ’n 500-kop-funksie so gou gereël nie.

Vanessa besef sy’t hulp nodig en bel die enigste bruin caterers in Joburg – Vince en Bonita, sy vrou wat destyds ’n dom skelm was – om hulle te help.

Soos net bruin mense kan, hardloop Vince en Bonita na Vanessa toe sonder om te sweet.

Bonita se hare lyk fantasties en sy aanvaar die challenge om 54 tafels in 4 dae met blomme te versier. Sy’s baie dapper, maar sy was ook al in die tronk en voor die hot oil treatment kon suurstof nie haar kopvel bereik nie.

Haar man, Vince, wat lyk soos een wat nog nooit ’n vrou se tette gesien het nie, glimlag net beleefd en sê dis mos waarvoor familie daar is. Hy’s so behep met familie, maar Neville was skaars sy pa en sy pa wil hom nie ken nie. Jy’t nie jou huis op ’n rots gebou nie, Vince. Jy’s braaf sonder rede.

Daai twee platters wat jy altyd maak, gaan nie dié 500 mense oor 4 dae kan voer nie, dingetjie. Jy moet bang wees!

Chris oorweeg dit om Mariaan nog ’n kans te gee. Haar suster – Joost se eks met die lelike, sigbare extensions – het egter ’n boy­friend genaamd Billabong. Die simpel jong is so dom soos grond kort voor die groot reën. Hy praat kliphard terwyl Chris op die foon is en Chris het ’n lelike humeur.

Hy verdink Mariaan toe weer van sleg wees met haar ongehoorsame padda en gooi die foon neer. Dit was maklik jou laaste kans, dingetjie. Jy en jou Fashion Express-toppies verdien nie geluk nie.

Die week se hoogtepunt is toe Emma met Dawid se hulp uit die tronk ontsnap, maar kom ons wees gou eerlik. Emma was nog nooit slim nie. ’n Mens noem nie ander mense dom nie, maar vir Emma-goed maak ek ’n uitsondering.

Rick was mal, ja, en hy wou jou vermoor, maar hoe skiet jy hom dood en beland self in die tronk?

Jy moes die lyk wegsteek, maar nee, jy wou die regte ding doen en kyk waar sit ons nou. Jy ontsnap uit die tronk agter Dawid aan wat nou sonder twyfel toesig oor daai milk­shake-verslaafde kid gaan kry.

Marko gaan stadig dood van kopseer en koors, maar niemand bied die man ’n Panado aan nie. My grootste vrees is dat Seunie, die donnerse hond, ook Amerika toe sal moet gaan. Daardie hond is nie geskik vir lugvaart nie.

Willem is heeltemal in die Kersfees-gees. Mal soos hy is, is sy hart ook mooi, want hy sit Krismis-trimmings in die Heights op vir “die kinders”. Jy’t ’n kind, Willem. Hoor tog daar in Mosselbaai.

Oubaas is niks impressed met dié Europese Kersbesigheid nie en gooi Vrydag Willem se Kersboom af. Dis vreeslik. Toe huil Hilda oor ’n man ’n vrou met ’n baba geslaan het en Petro het nou ’n fringe. Dis ál wat laas week gebeur het!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters