4 maande gelede
7de Laan dalk van Maandag nie meer op die lug nie
 ~ 

Dinge lyk pikdonker vir 7de Laan se toekoms . . . En soos dinge tans staan sal jy nie Maandagaand oudergewoonte voor jou kassie kan inskuif vir die lief en leed van Hillside se mense nie.

“Daar is ’n moontlikheid dat 7de Laan van Maandag nie op die lug gaan wees nie weens die SABC wat nog nie kontrakte geteken het nie. Al die werknemers is vandag laat weet dat hulle nie die 25ste betaal gaan word nie,” sê ’n werknemer van 7de Laan, wat verkies om anoniem te bly.

Nie net sit hulle nog sonder kontrakte nie, die akteurs, skrywers en produksiespanne het ook ’n brief gekry waarin hulle aangeraai word om ’n ander plan met hul debietorders te maak, want dit lyk nie of hul salarisse volgende week betaal gaan word nie.

“Die probleem is baie sagkens gestel in die memo. 7de Laan se lynbestuurder, Frances Maposa, het met die span vergader en vir ons gesê Danie Odendaal Produksies hou die 7de Laan-episodes vir seisoen 18 (wat Maandag moet begin speel) terug tot die SABC die kontrak teken.

“Muvhango en 7de Laan is SABC2 se ankerprogramme en bring die meeste geld in, SABC was ook laat met Muvhango se kontrak,” voeg die werknemer by.

“Hierdie is erger as vorige jare se kontrakonderhandelinge. Die SABC was ook al voorheen laat, maar dan het die vervaardigers die werknemers uit hul eie sak betaal. Nou sloer die SABC al sedert Augustus en betaal die vervaardigers die werknemers al sedertdien uit hul eie sak,” sê die werknemer.

“Daar is mense wat van openbare vervoer gebruik maak om werk toe te kom. As hulle nie teen Woensdag betaal word nie, gaan hulle nie werk toe kom nie.” Dit beteken nuwe episodes sal moontlik ook nie opgeneem kan word nie, sê die werknemer.

’n Werknemer van 7de Laan wat anoniem wil bly verduidelik dat indien ’n nuwe kontrak nie in plek is nie kan die produksiehuis nie episodes aan die SABC verskaf nie omdat daar nie finansies is om die episodes te vervaardig nie – die hele situasie kring dan uit en werknemers kan ook nie vergoed word nie.

Die produksiehuis het in die stadium genoeg episodes verskaf vir die sepie om nog tot Vrydag te rol.

Nog ’n werknemers vertel die produksiehuis se finasiële departement maak al sedert 7de Laan se produksiebreek in Augustus planne om die werknemers self te betaal. “Die vervaardigers moes eksterne instansies se hulp inroep. Daar is in die stadium nie meer reserwes om so vol te hou nie of mense om van te leen nie.”

Die bron voeg by dit is nou al die derde salaristjek wat die vervaardigers uit hul eie sak moet betaal.

Rosa-Mari Erasmus, publisiteitbeampte van 7de Laan, het bevestig die produksiehuis het ’n nota aan 7de Laan se wernemers uitgestuur wat die situasie verduidelik. Sy het ook bevestig daar is ’n moontlikheid dat 7de Laan nie Maandag op die lig gaan wees nie omdat die produksiehuis nog nie ’n finale kontrak van die SABC ontvang het nie.

“As ons nie ’n finale kontrak in plek het nie kan ons nie episodes aan die SABC oorhandig nie,” verduidelik sy.

Die SABC kon nog nie vir kommentaar bereik word nie. - sarie.com 

HIER IS DIE VOLLEDIGE BRIEF WAT 7DE LAAN AAN HUL WERKNEMERS UITGEREIK HET:

Lewer kommentaar op hierdie artikel
5 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters