5 maande gelede
Werkers moerig
ongelukkig: Werkers wat op strike is by die fabriek. Foto: KEITH MEYER  ~ 

LADISMITH. – Eendag het ons dalk ook ’n kaas-droogte.

Dít nadat werkers by die Ladismith-kaasaanleg tools ge-down het oor beweerde onwettige arbeidspraktyke.

Dis veral die klokstelsel wat glo diskrimineer teen swart en bruin werkers.

Bolo Pekeur, ’n vuurvreter-shop steward van die unie Csaawu (Commercial, Stevedoring, Agricultural and Allied Workers Union), verduidelik: “Die klokstelsel word nie regverdig toegepas nie. Elke keer wanneer werkers toilet toe gaan of ’n smoke break vat, word geld afgetrek.

“Dit geld nie vir die oorwegend wit kantoorwerkers nie. Wit werkers wat uitklok, werk vir ’n vasgestelde salaris, terwyl ons mense per uur betaal word. Ons werkers verloor tot meer as R500 per maand.”

Pekeur voeg by: “Transformasie is net window dressing. Werkers wat aan die union behoort, word onder die belt betaal, terwyl hul wit eweknieë drie keer meer pay. Ál die afdelingshoofde is omtrent wit. Ons het die departement van arbeid gevra om ondersoek te kom instel.”

’n Werker wat uit vrees vir viktimisasie anoniem wil bly, kla: “Ons is gedwing om poligraaftoetse te ondergaan en as ons weier, het die base gesê ons gaan afgedank word.”

Pekeur sê: “Werkers is gedwing toe daar glo spykers in kase by Pick ’n Pay gevind is. Daardie spykers kon enige plek in die kaas beland het, nie noodwendig in Ladismith nie.”

Renaldo Groenewald, uitvoerende hoof van Ladismith Kaas, sê: “Die klokstelsel se tye word elektronies vasgevang.

“Diegene wat benadeel word, is bloot deur afwesigheid van die werkplek.

“Die poligraaftoetse is gedoen op alle mense in die betrokke afdeling.

“Die maatskappy is verbind tot transformasie en vorder goed daarmee.

“Daar is gekleurde werkers in bestuurstrukture wat deur die vlakke gevorder het deur opleiding en goeie werk.

“Die maatskappy spandeer jaarliks derduisende rande aan opleiding.

“Bestuur is deursigtig.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters