2 maande gelede
verdeeldheid oor nuwe hoof
ontevrede: Leerders van die Laerskool Kretzenshoop betoog voor die skool.Foto verskaf  ~ 

GEORGE. – Onmin heers in dele van die Blanco-gemeenskap ná die aanstelling van ’n “inkommer” as skoolhoof van die Laerskool Kretzenshoop.

Daar is ingemeng met die keuringsproses, beweer Fagen Solomons, ’n gemeenskapslid en besorgde ouer.

Party inwoners is ontsteld oor die skoolhoof van Oudtshoorn af kom.

Solomons vertel Sam Crowley neem al meer as ’n jaar by die skool waar.

“Ons kan die veranderings sien. Soos byvoorbeeld, die terrein is altyd skoon, CCTV-kameras is aangebring en die kleedkamers is geverf.

“Die skool het van krag tot krag gegaan en ons kan sien Crowley gee werklik om vir die leerders.

“Hy is altyd bereid om die ekstra myl te stap en is selfs ná skool altyd beskikbaar om te help met probleme in die gemeenskap,” voeg Solomons by.

Nog ’n besorgde ouer van die dorp sê: “Crowley, wat ’n boorling is van Blanco, is vertroud met ons mense en ons wil hê hy moet aangestel word as hoof.”

Gesluit

Daar is ook ’n petisie deur 400 leerders en ouers geteken ter steun van Crowley se permanente aanstelling.

Sommige leerders en ouers van die skool het Woensdag 28 Junie die hekke van die skool gesluit.

Hulle het met bande vol papiere die pad toegemaak en hul ongelukkigheid uitgespreek.

Solomons het gevra dat Crowley ’n regverdige kans gegee word, want hy het hom bewys by die skool.

Solomons vertel verder daar is ’n split onder die beheerliggaam en dat Crowley op die lys was, maar nooit aangestel is nie.

Die departement van onderwys het bevestig dat ’n nuwe hoof aangestel is. Die pos is in 2016 geadverteer. Die beheerliggaam het die aanstelling aanbeveel en dit is deur die WKOD bekragtig.

Gemeenskapslede het op 6 Julie voor die kantore van die departement van onderwys betoog.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters