5 dae gelede
Skuiling kom vir haweloses
haweloos: Dié mense gaan nou plek kry om te bly. Foto’s: Mpumi Kiva  ~ 

GEORGE. – Haweloses wat buite die plaaslike landdroshof gebly het, gaan nou beter shelter kry op ’n stuk grond langs Stasiestraat.

’n Deel van die grond langs die treinstasie is geoormerk vir ontwikkeling.

Die nuwe blyplek sal omtrent 70 mense huisves en die munisipaliteit sowat R820 000 uit die sak jaag.

Een van die haweloses, Christiano Pedro, sê die behuising kom op die regte tyd.

“Omdat hier so baie werkloosheid is, kom daar net meer en meer haweloses.

“Mense kom van plase in die omgewing en soek werk in George,” vertel Pedro.

Hy sê hy is van ’n plaas afgesit nadat sy ouers, wat plaaswerkers daar was, oorlede is.

“Ek het op straat geslaap omdat ek nie geld het vir rent nie. Ek doen maar los werkies en kry R100 as ek in ’n tuin werk.”

Nog ’n hawelose, Hermien Philander, sê sy hoop die plan word gou in werking gestel omdat dit moeilik is om so te leef.

“Ek bly al die afgelope vier jaar so op straat. Ek kom oorspronklik van Willowmore en kon nie daar ’n job kry nie. Ek het George toe gekom om werk te soek, maar nou bly ek op straat.”

George se burgemeester, Melvin Naik, sê die maatskaplike dienste het al baie gedoen om mense te help, maar dit bly ’n groot uitdaging.

“Ons kan nie sê dit is nie ons probleem en net wegkyk nie. Dit gaan oor mense se lewe en veiligheid.

“Dit word moeiliker gemaak deur al die mense wat op straat bly.

“Dwelmhandelaars kom in ons stadsentrum in en die mense wat weerbaar is, word uitgebuit.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters