10 maande gelede
Man uit op borgtog ná lem-moord
 ~ 

BORGTOG van R1 000 met streng voorwaardes is vroeër vandeesweek in die Oudtshoorn-landdroshof aan ’n vermeende lemmer toegestaan.

Alfonso Malgas (23) word van die moord op Adrian Oliphant (18) aangekla.

Die bewering is dat Oliphant op Kersaand verskeie kere met ’n mes by ’n kuierplek, Face da Bass, gesteek is.

Oliphant is ná die voorval na die hospitaal geneem waar hy later aan sy wonde beswyk het.

Malgas het in ’n ­beëdigde verklaring wat by die hof ingedien is, aangedui dat hy onskuldig sal pleit.

Ontken

Hy sê voorts dat hy daarvan bewus is dat hy van ’n ernstige misdaad aangekla word.

Hy ontken ook dat hy ná die voorval enige iemand gedreig het.

Landdros Roelf Konstabel het borgtog toegestaan. Hy het Malgas vriendelik gewaarsku dat hy van ’n Bylae 5-misdryf aangekla word en die risiko loop om in aanhouding te bly indien hy enige van die borgtogvoorwaardes verontagsaam.

Die saak is tot 10 Februarie uitgestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters