5 dae gelede
Lizell bring lig
mooi gebaar: Lizell van Hansen wil soveel harte moontlik dié Kersfees bly maak deur haar projek om geskenke in te samel. Foto: GARNETT WICOMB  ~ 

OUDTSHOORN. – Sy wil die harte van mense wat dit nie breed het nie, op Kersoggend verbly.

Daarvoor soek sy geskenke vanuit die gemeenskap.

So sê die bekende plaaslike gospelsangeres Lizell van Hansen oor haar uitreikprojek, “My Christmas Prayer: Go Light Your World”.

“Hierdie is ’n inisiatief waarmee ek verlede jaar begin het. Ek het toe sowat 150 geskenke aan kinders en volwassenes in die gebied bekend as Die Kanaal uitgedeel,” sê Van Hansen.

Sy hoop om vanjaar sowat 500 geskenke uit te deel.

Van Hansen was die leier van die destydse sanggroep Gratitude en sing reeds vanaf haar negende jaar.

Haar ouers, Johnny en Jeanetta Dondas, is die leiers en stigterslede van die bekende Shepherds-koor, wat self reeds 50 jaar aan die gang is.

Van Hansen self het sowat vyf jaar gelede met solo-optredes begin.

Haar eerste CD The Cross Said It All is in 2015 uitgereik.

“Ons hoop om dié jaar sommer baie meer geskenke in te samel, want die behoefte is ontsettend groot.

“Ons doel is om mense, veral kinders, weer die ware betekenis van Jesus se geboorte te laat ervaar en hulle te laat weet dat Hy steeds vir almal omgee.

“Ek doen ’n beroep op die breë gemeenskap van Oudtshoorn om die projek te ondersteun en sodoende ’n verskil in iemand anders se lewe te maak.”

Mense kan ’n bydrae maak deur ’n kaartjie vir haar gospelkonsert te koop of ’n geskenkie, hoe klein ook al, te gee.

Die konsert is Sondag 10 Desember om 18:00 in die Toekomsrus-gemeenskapsaal.

“Die toegang is slegs R30, juis sodat meer op die geskenke gekonsentreer moet word wat die gehoor kan saambring.”

Bel Van Hansen vir details by 078 049 4963 of André Stuurman by 084 774 2001.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters