2 maande gelede
Inwoners is rustiger na 'gun' uitkom
koeëlwond: Francois Tok is die slagoffer van ’n skietvoorval.Foto: keith meyer  ~ 

DIE vrese van Calitzdorp-inwoners oor ’n vuurwapen wat in ’n skietvoorval gebruik en toe nie gevind is nie, is nou besweer.

Dis nadat Francois Tok voor sy huis ’n koeëlwond in die arm toegedien is.

Toe die polisie toegeslaan het, is die vuurwapen nie gevind nie.

Daaroor was die inwoners baie woedend.

Lede van die buurtwag het toe selfs geweier om Royal Heights te patrolleer solank die vuurwapen vermis word.

Tok se ma, Annie Mankqoi, was woedend omdat die skurke gesweer het hulle sal weer vir Tok kom om hom uit te haal.

Son op Sondag het toe navraag gedoen oor die voorval en die vuurwapen.

Vrede

Dié week het inwoners gejuig toe die polisie die verdagte, Donovan Abrahams, aangekeer én die vuur­wapen gevind het.

Peet Anta het gesê: “Nou kan ons saans weer in vrede die strate in vaar.

“Ons bedank die SAPD dat hulle ons woonbuurt weer bevry het van daai gun-mal man.”

Kapt. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder, het by navraag gesê: “Die 20-jarige Abrahams is reeds op 22 Junie gearresteer.

“Hy is in hegtenis geneem op ’n aanklag van poging tot moord op Francois Tok.”

Pojie het gesê Abrahams het reeds in die Calitzdorp-landdroshof verskyn.

Abrahams bly in aanhouding tot sy volgende verskyning, wat Donderdag is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters