8 dae gelede
Dood beëindig vrou se lyding

’N JONG vrou is dood nadat sy wreedaardig verkrag en toe aan die brand gesteek is.

Son het vroeër berig oor hoe twee jongens Catharina Willemse (26) op die plaas La Rochelle in Ceres verkrag en haar toe vol petrol gegooi en aan die brand gesteek het.

Willemse is deur ’n venster uit haar huis gedruk en gesleep na die plaasdam, waar die daad gepleeg is.

Ondanks erge beserings het Willemse dit reggekry om na ’n buurvrou, Katriena Mienies, te loop.

Mienies sê die slagoffer het uitasem aan haar deur geklop en gesê wie dit gedoen het.

Die voorval het Vrydag 4 Augustus gebeur. Willemse is eers amper vier weke later, op Woensdag 30 Augustus, in die Tygerberg-hospitaal dood.

Haar gesig, hare, ore, rug en boude was verbrand.

Marie Fritz (52), die slagoffer se skoonma, sê Willemse het ’n ­negejarige dogtertjie.

“Ek was nie by die huis oor die naweek toe dit gebeur het nie. Toe ek van die wrede daad hoor, is ek hospitaal toe,” vertel ’n ontstelde Fritz.

“Daar kon ek nie glo wat ek aanskou het nie. Die brandwonde was baie diep. Ek kon haar seer voel, regtig.

“Ek probeer haar nou ­onder die grond kry sodat sy kan rus. Sy het nie meer ’n ma en pa gehad nie, net haar stiefpa.

“Wat vir my so hartseer is, is dat die 24-jarige beskuldigde nou die blaam op die 15-jarige verdagte wil afskuif.”

Die twee beskuldigdes het reeds in die hof verskyn en is tans uit op borgtog van R500.

Past. Abraham Jooster, voorsitter van die Witzenberg Abuse ­Crisis Centre (WACC) in ­Ceres, sê genoeg is nou genoeg.

“Dit is ’n saak waar almal in die gemeenskap, asook die regering, organisasies en die sakesektore hande moet vat teen misdaad.

“Ons reël ’n optog teen verkragting en moord vir 18 Oktober en wil hê almal moet hulle by ons aansluit,” sê Jooster.

Marinda Mankapan, ook van die WACC, sê as vrou kan sy nie oor sulke gruwels stilbly nie.

“Daar is so baie vroumense wat abuse deurmaak, maar dan is daar manne ook wat abuse word. Kom ons verbreek die stilte. Vertel iemand op wie jy vertrou sodat jy gehelp kan word,” sê Mankapan.

Luciano Awards (24) en die 15-jarige jeugdige verskyn weer op 18 Oktober in die hof.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters