2 maande gelede
CWP gee fietse vir buurtwag
tweewiel-held: Sherwill Botha (links) oorhandig die fietse en tweerigtingradio’s aan die buurtwaglede.Foto: KEITH MEYER  ~ 

CALITZDORP. – Hulle is die oë, ore en ruggraat van die polisie.

Dís die manne van die buurtwag wat hul lewens waag om dié uitgestrekte dorpie met sy menige plase veilig te hou.

Die polisie het net mooi woorde vir dié onverskrokke manne van die buurtwag.

Nou het Sherwill Botha van die Community Work Programme (CWP) die buurtwag se taak aansienlik vergemaklik deur die ouens van fietse en tweerigtingradio’s te voorsien.

Jakob Willemse, ’n buurtwaglid, sê: “Ons moet soms lang afstande te voet aflê.

“Nou kan ons vinniger by die brandpunte uitkom.

“Die radio’s stel ons in staat om te weet waar die ander is en wat waar gebeur. Ons is nou meer paraat as ooit om misdaad te bestry en te voorkom.”

Soufie Roman, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum, het nog altyd net goeie woorde vir die buurtwaglede gehad.

Sy sê: “Ons het goeie samewerking. Die Saps is hulle ewig dankbaar. So ook die gemeenskap.”

Jaffie Jafta, ’n inwoner, sê: “Ons weet die polisiemanne is bietjie min hier en die voertuie is nie genoeg nie. Nou het ons mos ‘polisiemanne’ op fietse wat net so goed is.

“Die gemeenskap wat geteister word deur erge misdaad sal nou skoongemaak kan word.

“Ons dorpie moet ’n slag ook mos oor goeie nuus die koerant haal, of hoe?”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters